Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 20:15-27 Die Boodskap (DB)

15. ’n Man wat seks het met ’n dier moet doodgemaak word en die dier moet doodgeslaan word.

16. As ’n vrou met ’n dier verkeer, moet sy en die dier doodgemaak word.

17. As ’n man en sy suster of halfsuster met mekaar afspreek en met mekaar seks het, moet hulle in die openbaar uit die volk weggejaag word. Die man het sy suster onteer en hy moet daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.

18. ’n Man en vrou wat met wedersydse instemming saamslaap terwyl sy besig is om te menstrueer, moet al twee van die volk afgesny word.

19. Jy mag nie omgang hê met jou tannie nie, of dit nou aan jou pa of jou ma se kant is, want dit is bloedfamilie. Julle moet albei skuld aanvaar.

20. Iemand wat by sy tannie slaap, bring skande oor sy oom. Die man en vrou moet verantwoordelikheid aanvaar vir hulle oortreding. Hulle sal doodgaan sonder om ooit kinders te hê.

21. Dit is ’n skande as iemand sy broer se vrou afvry. Hy het skande oor sy broer gebring. Hulle sal nooit kinders hê nie.”

22. “Hou stip by al my reëls en by al my riglyne, en lewe daarvolgens. Die land waarheen Ek julle vat om daar te gaan woon sal julle dan nie uitspoeg nie.

23. Moenie die gewoontes aanleer van die nasies wat Ek voor julle uit verdryf nie. Ek het ’n weersin in hulle omdat hulle hierdie dinge doen.

24. Ek het julle belowe dat julle die land sal besit. Ek self skenk dit aan julle dat dit julle besitting kan word. Dit is ’n land waarin daar meer as genoeg is van alles. Dit is ook Ek, die Here julle God, wat julle tussen al die nasies uitgesoek het om julle aan My te verbind.

25. Julle moet ook onderskei tussen die diere wat aanvaarbaar is om te eet en dié wat nie reg is nie. Onderskei tussen die voëls wat vir My reg is en dié wat Ek nie wil hê julle moet eet nie. Julle moenie julleself afstootlik maak en gaan staan en eet van die diere of voëls of reptiele wat op die grond rondkruip wat Ek vir julle uitgewys het nie.

26. Julle moet op so ’n manier leef dat dit duidelik is dat julle aan My behoort en vir My leef. Ek is die Here. Ek is die enigste God. Ek het julle onder die nasies uitgesoek om aan My te behoort.

27. Enige man of vrou wat met die geeste van dooies probeer praat of waarsêery probeer beoefen, moet met klippe doodgegooi word. Hulle het self hulle doodstraf oor hulle gebring.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 20