Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 19:23-37 Die Boodskap (DB)

23. “Wanneer julle in die land gaan woon waarheen Ek julle vat en julle vrugtebome daar plant, moet julle vir die eerste drie jaar glad nie die vrugte pluk nie. Hulle is dan soos iemand wat nog nie besny is en nog nie aan my volk behoort nie. Hulle mag nog glad nie geëet word nie.

24. In die vierde jaar moet al die vrugte aan die Here gewy word om vir Hom daarvoor dankie te sê.

25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. So sal die bome meer vrugte dra. Ek is die Here, julle God.

26. “Moenie deelneem aan seremonies waar daar bloed gedrink word nie. Moenie julle tyd mors met voorspellings en waarsêery nie.

27-28. Julle moet ook nie die hare teen julle slape en die kant van julle baard afskeer en merke in julleself kerf of tatoeëermerke op julle lyf maak soos die heidene wanneer hulle oor die dooies rou nie. Ek is die Here.

29. Jy mag nooit jou dogter beskikbaar stel om afgode te aanbid nie. Jy mag haar nooit as ’n prostituut by ’n heidense tempel laat werk nie. Dit sal maak dat die land se mense agter afgode aangaan en die land vol skandelike dinge word.

30. “Wanneer dit ’n rusdag is, moet julle rus. Julle moet ook respek hê vir die plek waar mense My ontmoet om My te aanbid. Ek is die Here.

31. Moenie hulp soek by spiritiste en die geeste van dooies nie. Dit maak julle vir My onaanvaarbaar. Ek is tog die Here julle God.

32. Uit respek vir jou God moet jy staan wanneer daar oumense in die geselskap is. Jy moet hulle met agting behandel. Ek is die Here.

33-34. Moenie ’n buitelander wat tydelik by julle in die land bly, uitbuit nie. Behandel hom soos ’n gebore Israeliet. Jy moet vir hom omgee soos jy vir jouself omgee. Julle was immers in Egipte maar ook self buitelanders. Ek is die Here julle God.

35. Moenie kul as julle iets moet afmeet of dit op ’n skaal weeg of die inhoud daarvan moet bepaal nie.

36. Die skaal wat jy gebruik, die gewigte wat jy daarop sit en die houer waarin jy iets afmeet, moet korrek wees. Omdat Ek, die Here julle God, julle uit Egipte bevry het,

37. moet julle my reëls en voorskrifte volg en volgens hulle optree. Ek is die Here.”

Lees volledige hoofstuk Levitikus 19