Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 16:21-29 Die Boodskap (DB)

21. Hy sit albei sy hande op die bok se kop. Terwyl sy hande op die bok se kop is, moet hy alles bely wat Israel verkeerd gedoen het. Hy moet sê hoe moedswillig hulle is en hoe dikwels hulle nie doen wat die Here van hulle vra nie. Hy dra al hierdie verkeerde dinge op die bok oor. Iemand wat daar reg staan, moet dan die bok weglei die woestyn in.

22. Die bok dra dan al hulle oortredings weg na ’n plek waar daar nie mense is nie. Die man jaag die bok dan aan om nog dieper die woestyn in te gaan.

23. “Aäron gaan dan weer terug na die tent toe. Hy trek die linneklere uit wat hy aangehad het toe hy in die afgesonderde deel agter die gordyn ingegaan het en los die klere daar.

24. Hy gaan was hom op ’n plek wat daarvoor eenkant gehou word en trek weer sy gewone klere aan. Hy gaan terug en bring offers wat hy op die altaar verbrand namens homself en die volk. Daardeur word hy en die volk vergewe vir hulle sondes en kom daar weer vrede met die Here.

25. Hy sorg dat die diere se vet heeltemal wegbrand op die altaar.

26. “Wanneer die man wat die bok in die woestyn gaan injaag het, terugkom, moet hy eers sy klere en homself gaan was voordat hy weer in die kamp kan ingaan.

27. Die karkasse van die bul en die bok wat vir die sonde geslag is en waarvan die bloed in die afgesonderde deel agter die voorhangsel gebruik is om vrede te bring moet dan uit die kamp weggevat word. Dit moet met vel, vleis, binnegoed en al daar buite die kamp verbrand word.

28. Die persoon wat dit verbrand, moet na die tyd eers sy klere en homself was voordat hy weer in die kamp kan terugkom.

29. “Julle moet elke jaar op die tiende dag van die sewende maand ’n dag hê waarop julle niks eet nie. Julle moet op daardie dag julle gedagtes laat gaan oor al die dinge wat julle verkeerd gedoen het. Niemand van julle, selfs ook mense wat van ander plekke kom en by julle bly, mag op daardie dag werk nie.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 16