Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:22-35 Die Boodskap (DB)

22. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie,

23. behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem.

24. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is.

25-26. Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei.

27. Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het.

28. Josua het Ai afgebrand en dit vir altyd as ’n verlate ruïne agtergelaat.

29. Die koning van Ai het hy aan ’n boom opgehang en hom daar laat hang tot die aand toe. Met sonsondergang het hy sy soldate opdrag gegee om die liggaam te verwyder. Hulle het dit afgehaal en voor Ai se hekke neergegooi. Toe het hulle dit met klippe toegepak om almal te herinner aan wat daar gebeur het. Dis vandag nog daar.

30. Hierna het Josua op die berg Ebal ’n altaar gebou vir die Here, die God van Israel.

31. Hy het die instruksies gevolg wat Moses vir die Israeliete gegee het. Dit het bepaal dat dit ’n altaar van klippe moes wees wat nie gekap of met enige instrument gevorm is nie. Op hierdie altaar het hulle vir die Here brandoffers en vredesoffers gebring.

32. Die Israeliete het toegekyk terwyl Josua ’n afskrif van die wet van Moses op ’n stel klippe neergeskryf het.

33. Die hele Israel, sowel as die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, hulle leiers, hulle beamptes en hulle regters het aan weerskante van die verbondsark gestaan, met die Levitiese priesters wat die ark gedra het, tussen hulle en die ark. Die een groep het met hulle rug na die berg Gerisim toe gestaan en die ander groep met hulle rug na die berg Ebal toe. Hulle het dit in opdrag van Moses, die Here se dienaar, gedoen sodat hulle die seën van die Here kon ontvang.

34. Daarna het Josua alles wat die wet sê, voorgelees, ook oor seëninge en strawwe, net soos dit in die wet geskryf was.

35. Josua het elke opdrag van Moses aan die hele vergadering Israeliete voorgelees. Die vroue en kinders en die vreemdelinge wat saam met hulle weggetrek het, was ook by.

Lees volledige hoofstuk Josua 8