Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 8:18-27 Die Boodskap (DB)

18. Toe sê die Here vir Josua: “Steek jou swaard na Ai toe uit, want Ek gee die stad in jou mag oor.” Josua het die swaard wat hy in sy hand gehad het, in die rigting van die stad uitgesteek.

19. Toe die manskappe wat weggekruip het, dit sien, het hulle vinnig opgespring, die stad ingeneem en dit dadelik aan die brand gesteek.

20. Toe die soldate van Ai terugkyk, het hulle die rook van die stad wat aan die brand was in die lug sien opstyg. Hulle het egter nie ’n kans gehad om êrens heen te ontsnap nie, want die Israeliete wat woestyn toe gehardloop het, het ook nou omgedraai en hulle begin aanval.

21. Toe Josua en sy soldate sien dat die hinderlaag geslaag het en dat die stad aan die brand was, het hulle omgedraai en die soldate van Ai begin aanval.

22. Die oorblywende soldate wat in Ai was, het immers vroeër al uitgekom om die Israeliete te agtervolg. Nou is al die soldate van Ai egter deur die Israeliete omsingel. Hulle is almal doodgemaak. Niemand het ontsnap nie,

23. behalwe die koning van Ai. Hy is gevang en na Josua toe geneem.

24. Die Israeliete het elke soldaat wat hulle na die woestyn toe agtervolg het net daar doodgemaak. Daarna is hulle terug Ai toe om seker te maak dat almal daar ook dood is.

25-26. Josua het nie sy swaard wat hy in die rigting van Ai uitgesteek het, laat sak voordat al die inwoners daarvan vernietig is nie. Die hele bevolking van Ai, altesaam 12 000 mense, is op daardie dag uitgeroei.

27. Al wat die Israeliete vir hulleself gehou het, was die diere en die oorlogsbuit, soos die Here vir Josua beveel het.

Lees volledige hoofstuk Josua 8