Ou Testament

Nuwe Testament

Jona 4:6-11 Die Boodskap (DB)

6. Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant.

7. Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan.

8. Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.”

9. God vra toe weer vir Jona: “Het jy die reg om oor hierdie wonderplant kwaad te wees?”“Ja, tot die dood toe,” antwoord Jona die Here.

10. “Nou toe nou,” sê die Here vir hom. “Jy dink jy het die reg om kwaad te wees oor ’n plant waarvoor jy nie ’n oomblik moeite gedoen het om dit te laat groei nie, wat oornag op sy eie opgekom en weer net so verdwyn het.

11. Maar jy wil nie hê Ek moet bekommerd wees oor die groot stad Nineve nie, waarin daar meer as 120 000 mense bly wat nie reg van verkeerd kan onderskei nie en waarin daar so baie diere is. Het Ek nie die reg om My oor hulle te bekommer nie?”

Lees volledige hoofstuk Jona 4