Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:17-32 Die Boodskap (DB)

17. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.”

18. Toe het die Here sy mense en sy land jammer gekry.

19. Hy sê toe: Ek sal sorg dat julle binnekort te veel koring, wyn en olyfolie sal hê. Dan sal die ander nasies wat My nie ken nie, julle nie langer kan spot nie.

20. Ek sal die sprinkane wat as julle vyand uit die noorde gekom het, van julle af wegjaag die woestyn in. Hulle voorpunt sal Ek in die Dooie See laat verdrink en hulle agterhoede in die Middellandse See. Hulle het te veel van hulleself gedink; daarom sal die slegte reuk van dooie liggame oral in die lug bly hang.

21. Hou dadelik op om bang te wees, ploeglande. Wees baie bly en juig, want die Here het ’n groot wonderwerk gedoen.

22. Ook julle, diere van die veld, hou dadelik op om bang te wees, want die weivelde is nou weer groen en daar is vrugte aan die bome. Die vyebome en die wingerde is oortrek van die vrugte.

23. Wees bly, inwoners van Sion, juig tot eer van die Here julle God! Die reën wat van Hom af kom, is ’n teken dat Hy regtig vir julle omgee. Dit is Hy wat die winterreën laat kom het en die lentereën weer laat val het, presies soos voorheen.

24. Daar sal hope koring langs die dorsvloer lê. Die wyn- en olyfperse sal oorloop van die wyn en olie.

25. Ek sal opmaak vir dit wat julle verloor het toe Ek al daardie sprinkane gestuur het om julle oeste te verwoes.

26. Julle sal weer genoeg hê om te eet. Dan sal julle die Naam van die Here julle God grootmaak en loof vir die wonderlike dinge wat Hy vir julle gedoen het. My volk sal nooit weer so verneder word nie.

27. Dan, Israel, sal julle weet dat Ek regtig by julle is en dat net Ek, die Here, julle God is, niemand anders nie. My volk sal nooit weer so verneder word nie.

28. Nadat al hierdie dinge gebeur het, sal Ek my Gees oor almal laat reën. Julle seuns en julle dogters sal my boodskap bekendmaak, presies net soos die profete dit gedoen het. Julle oumense sal drome droom wat van My af kom, en julle jongmense sal bonatuurlike visioene sien waarin Ek met hulle praat.

29. In daardie tyd sal Ek selfs my Gees laat kom op mense wat glad nie belangrik is nie.

30. Ek sal ook buitengewone tekens in die hemelruim en op die aarde laat gebeur. Op die aarde sal daar bloedvergieting, vuur en rookwolke wees.

31. In die hemelruim sal die son en die maan pikdonker word. Dan sal die groot en vreeslike dag van die Here kom.

32. Almal wat die Here ernstig smeek om hulle te help, sal op daardie dag gered word. Presies net soos die Here beloof het, sal Hy daar op die berg Sion en in Jerusalem ingryp om al sy mense te help. Almal wat deur die Here geroep is om aan Hom te behoort, sal definitief deel uitmaak van die mense wat gered word.

Lees volledige hoofstuk Joël 2