Ou Testament

Nuwe Testament

Joël 2:14-21 Die Boodskap (DB)

14. Wie weet of die Here nie dalk van plan sal verander en sal ophou om vir julle kwaad te wees nie! Dalk gee Hy weer vir julle groot oeste. Dan kan julle weer vir die Here julle God offers van koring en wyn bring om Hom te eer.

15. Blaas op trompette in Sion! Roep ’n vasdag uit waar almal sonder kos klaarkom om te wys hulle is regtig jammer oor hulle sonde. Roep die gemeente op vir ’n vergadering.

16. Kry almal bymekaar. Maak hulle gereed vir ’n spesiale byeenkoms. Bring die oumense, die kinders en die babas. Selfs pasgetroude paartjies wat op wittebrood is, moet hierdie vergadering bywoon.

17. Die priesters wat in diens van die Here is, moet tussen die ingang van die tempel en die altaar, daar waar die offers gebring word, gaan staan en huil. Hulle moet ernstig bid: “Here, kry u mense jammer. Moenie toelaat dat ander volke spot met ons wat aan U behoort en vermakerig vir ons vra: ‘Waar is Israel se God?’ nie.”

18. Toe het die Here sy mense en sy land jammer gekry.

19. Hy sê toe: Ek sal sorg dat julle binnekort te veel koring, wyn en olyfolie sal hê. Dan sal die ander nasies wat My nie ken nie, julle nie langer kan spot nie.

20. Ek sal die sprinkane wat as julle vyand uit die noorde gekom het, van julle af wegjaag die woestyn in. Hulle voorpunt sal Ek in die Dooie See laat verdrink en hulle agterhoede in die Middellandse See. Hulle het te veel van hulleself gedink; daarom sal die slegte reuk van dooie liggame oral in die lug bly hang.

21. Hou dadelik op om bang te wees, ploeglande. Wees baie bly en juig, want die Here het ’n groot wonderwerk gedoen.

Lees volledige hoofstuk Joël 2