Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 66:9-17 Die Boodskap (DB)

9. Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God.

10. Almal wat lief is vir Jerusalem, moet saam met die stad bly wees. Juig saam met die stad! Almal wat oor Jerusalem getreur het, moet nou saam met haar vrolik wees.

11. Drink aan Jerusalem se voorspoed soos ’n baba aan sy ma se bors drink om versadig te word.

12. Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel.

13. Soos ’n ma haar kind troos, sal Ek julle vertroos. Ek sal julle veilig laat voel in Jerusalem.

14. Wanneer julle sien wat met julle gebeur, sal julle baie bly word. Julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitloop. Dit sal duidelik word dat die Here sorg vir hulle wat vir Hom lewe, maar dat Hy sy vyande straf.

15. Kyk, die Here kom met vuur na die wêreld toe. Sy oorlogswaens kom soos ’n stormwind. Hy kom om met die hitte van sy woede en met sy vuurvlamme te straf.

16. Hy kom om met vuur en swaard te oordeel oor almal wat leef. Die Here sal baie laat doodgaan.

17. Die Here sê: Almal sal doodgaan wat hulleself afsonder en hulleself toewy aan die afgodsdiens in die groen parke waar hulle varkvleis en rotte en vleis wat verbode is, eet.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 66