Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 66:11-20 Die Boodskap (DB)

11. Drink aan Jerusalem se voorspoed soos ’n baba aan sy ma se bors drink om versadig te word.

12. Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel.

13. Soos ’n ma haar kind troos, sal Ek julle vertroos. Ek sal julle veilig laat voel in Jerusalem.

14. Wanneer julle sien wat met julle gebeur, sal julle baie bly word. Julle sal nuwe lewe kry soos groen gras wat uitloop. Dit sal duidelik word dat die Here sorg vir hulle wat vir Hom lewe, maar dat Hy sy vyande straf.

15. Kyk, die Here kom met vuur na die wêreld toe. Sy oorlogswaens kom soos ’n stormwind. Hy kom om met die hitte van sy woede en met sy vuurvlamme te straf.

16. Hy kom om met vuur en swaard te oordeel oor almal wat leef. Die Here sal baie laat doodgaan.

17. Die Here sê: Almal sal doodgaan wat hulleself afsonder en hulleself toewy aan die afgodsdiens in die groen parke waar hulle varkvleis en rotte en vleis wat verbode is, eet.

18. Ek weet wat hulle doen en wat in hulle gedagtes omgaan. Die tyd kom dat Ek al die nasies en die taalgroepe bymekaar gaan laat kom. Hulle sal kom en hulle sal sien hoe sterk Ek is.

19. Ek sal vir hulle ’n teken gee. Uit hulle wat nog oor is, sal Ek mense stuur na die nasies toe, na Tarsis, na Pul, na die Lidiërs (met hulle bekwame boogskieters), na Tubal en Griekeland, na al die lande ver oorkant die see wat nog nie van My gehoor het en nog nie gesien het hoe magtig Ek is nie. Hulle sal die nasies inlig oor my belangrikheid.

20. Hulle sal almal terugbring van julle volk wat tussen die nasies bly. Hulle sal daardie mense soos ’n offer na die tempel in Jerusalem bring. Hulle sal op perde en waens, drastoele, muile en kamele na Jerusalem toe terugkom, sê die Here. Dit sal wees soos wanneer Israel hulle graanoffers in spesiale houers na die tempel toe bring.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 66