Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 66:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Die Here sê: Die stoel waarop Ek sit om te regeer is bo in die lug. Die plek waar Ek my voete sit, is onder op die grond. Waar sal julle dan ’n huis vir My kan bou waarin Ek sal kan bly?

2. Ek het self alles gemaak sodat alles aan My kan behoort, sê die Here. Ek hou daarvan om mense te sien wat nederig is, wat jammer is oor hulle sonde en respek het vir My.

3. Maar daar is mense wat hulle eie kop volg. Hulle doen afskuwelike dinge. Hulle slag bulle om te offer, maar hulle maak ook mense dood. Hulle slag lammers om te offer, maar hulle maak ook honde dood om te offer. Hulle bring offers van graan, maar ook van varkbloed. Hulle brand wierookoffers, maar hulle bid tegelyk tot afgode.

4. Ek het besluit om dinge met hulle te laat gebeur waarvoor hulle bang is. Ek het hulle mos geroep, maar niemand wou My antwoord nie. Ek het met hulle gepraat, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het aangehou om te doen wat vir My verkeerd is. Hulle het hulle toegespits op die dinge wat vir My onaanvaarbaar is.

5. Julle wat respek het vir die Here se woord moet hoor wat die Here vir julle sê: Die mense uit julle volk wat julle haat en julle verstoot omdat julle aan My getrou bly, sal spot en vir julle sê: “Eer maar die Here. Laat ons sien waarom julle so bly is oor God!” Hulle gaan in die skande kom.

6. Luister na die lawaai wat uit die stad kom! Hoor die rumoer daar by die tempel! Dit is die geluid van die Here wat sy vyande terugbetaal vir wat hulle gedoen het.

7. Geboortepyne kom eers voordat ’n vrou ’n baba in die wêreld bring. ’n Baba word nie gebore as die pyne nie eers gekom het nie.

8. Wie het al gehoor dat dit anders kan wees? Wie het al so iets gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of kom ’n volk in een enkele oomblik in die wêreld in? Sion het nog skaars geboortepyne gevoel, toe is haar seun gebore.

9. Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 66