Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 57:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Die man wat reg gelewe het, gaan sommer net so dood. Niemand steur hulle daaraan nie. Mense wat getrou aan die Here was, sterf. Niemand verstaan waarom hulle doodgaan nie. Maar so word die regverdige gespaar van verdere ellende in die wêreld.

2. Dié wat eerbaar geleef het, kan gaan rus in die graf.

3. Kom ’n bietjie nader, julle kinders van ’n vrou wat haar met towery ophou. Kom hier, julle wat ’n straatvrou vir ’n ma het.

4. Met wie wil julle gekskeer? Oor wie het julle so baie te sê? Vir wie staan julle en tong uitsteek? Is julle nie self die kinders van mense wat in opstand gekom het teen God nie? Is julle nie die nageslag van bedrieërs nie?

5. Julle het seks onder groot bome om die afgode te vereer. Julle slaap by mekaar onder groen bome ter wille van die seksgode. Julle sny kinders keelaf onder in die laagtes. Julle offer hulle vir die afgode onder ’n groot rots.

6. Julle maak van die groot klippe onder in die spruit julle gode. Julle dink dat hulle julle lewens reg kan laat loop. Julle gooi drank oor hierdie klippe uit om vir die gode te offer. Julle kom sit kos voor die klippe neer om hulle te aanbid. Dink julle vir ’n oomblik dat Ek hiermee tevrede kan wees?

7. Julle klim op hoë berge om daar vir die gode seks te hê. Julle klim teen die berge uit om daar vir die gode offers te gaan bring.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 57