Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 51:15-23 Die Boodskap (DB)

15. Ek is die Here jou God. Ek laat storms op die see kom. Ek laat die branders bruis. My Naam is Here van die hemelse leërmag.

16. Ek het die lug oor die aarde gespan. Ek het die aarde stewig op sy plek neergesit. Ek het vir Jerusalem se inwoners gesê: “Julle is my volk.” Ek sê vir jou wat jy moet sê. Ek beskerm jou.

17. Skrik wakker, Jerusalem. Staan op! Jy het die beker van die Here se woede leeggedrink. Dit het jou laat steier.

18. Van almal wat jy in die wêreld gebring het, is daar nie ’n enkele een wat vir jou die pad kan wys nie. Van almal wat jy grootgemaak het, is daar nie een wat jou kan ondersteun nie.

19. Wie sal sê dat hulle meegevoel het met wat met jou gebeur het? Jou land is verwoes. Die oorlog het hongersnood vir jou gebring. Wie kan jou troos?

20. Jou seuns lê magteloos op die hoeke van die strate. Hulle is soos wilde diere wat in ’n strik gevang is. Die Here het hulle met sy woede getref. Hy het hulle gestraf.

21. Hoor ’n bietjie hier, julle wat so swaargekry het. Julle loop en steier, maar dit is nie omdat julle dronk is nie.

22. Die Here jou God sal sy volk se lot verander. Hy sê: Ek gaan die beker wat jou so laat steier het, by jou wegvat. Jy hoef nie langer die beker van my woede te drink nie.

23. Ek gaan daardie beker gee vir hulle wat julle verdruk het. Hulle sal dit drink. Hulle het vir julle gesê: “Gaan lê op die grond dat ons oor julle kan loop.” Jy moes op die grond gaan lê dat hulle op jou kon trap en bo-oor jou kon loop asof jy ’n pad is.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 51