Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 5:3-12 Die Boodskap (DB)

3. Nou vra die Een wat ek liefhet: Inwoners van Jerusalem en Juda, Ek het my saak aan julle gestel, lewer tog nou uitspraak tussen My en my wingerd.

4. Wat meer kon Ek vir my wingerd doen as wat Ek alreeds gedoen het? Waarom het my wingerd dan suur druiwe gedra in plaas van die goeie druiwe wat Ek verwag het?

5. Laat Ek julle vertel wat Ek nou met my wingerd gaan doen: Ek gaan die heining wat daarom was om dit te beskerm wegvat en die muur wat Ek daarom gebou het, afbreek, sodat die diere kan inkom en dit kaal vreet en met hulle pote vertrap.

6. Ek gaan hierdie wingerd aan homself oorlaat om toe te groei. Ek gaan dit nie meer snoei of skoffel nie. Doringbosse en onkruid sal dit inneem en Ek sal sorg dat dit nie daar reën nie.

7. Israel is die Here die Almagtige se wingerd. Die mense van Juda is die wingerdstokke van wie Hy so baie verwag het. Hy het reg en geregtigheid verwag, maar onreg gekry. In plaas van eerlikheid moes Hy hoor hoe die verontregtes hulle lot by Hom bekla.

8. Dit sal maar sleg gaan met die mense wat huis na huis opkoop sodat daar nie plek oorbly vir ander mense om in te bly nie. Julle palm al die plase in en bou vir julle huise daarop sodat julle die alleeneienaars van al die grond kan wees.

9. Ek het die Here die Almagtige hoor waarsku: Baie van hierdie pragtige, groot huise sal leeg en vervalle bly staan omdat hulle eienaars dood en weg is.

10. ’n Tien hektaar wingerd sal skaars 21 liter wyn oplewer en op ’n land waar daar ses sakke saad gesaai is, sal net een sak vol koring geoes word.

11. Dit sal ellendig gaan met dié wat van vroeg tot laat sit en drink tot hulle dronk is.

12. Daar is volop musiek en drank op hulle partytjies. Maar hulle steur hulle nie aan die Here nie. Hulle is so besig om te fuif dat hulle nie agterkom wat Hy besig is om te doen nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 5