Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 44:12-17 Die Boodskap (DB)

12. Die smid werk met sy gereedskap en bewerk die yster in die vuur. Hy vorm die beeld met sy hamer op die aambeeld. Met sy gespierde arm slaan hy dit in die vorm wat hy dit wil hê. Maar hy is ook maar net ’n mens. Hy word ook maar honger en moeg. As hy nie water drink nie, raak hy ook maar uitgeput.

13. Die kunstenaar wat met hout werk, meet ’n stuk hout af en merk die buitelyne daarop uit met ’n potlood en ’n passer. Hy gebruik sy beitel en kerf uit die hout iets wat soos ’n mens lyk. Dit word ’n pragtige beeld wat lyk soos ’n mens wat in ’n huis woon.

14. Die hout wat hy gebruik, kom van ’n sederboom wat hy afgekap het. Hy kon ook ’n sipresboom of eikeboom gevat het. Hy laat vir hom bome in die bos grootword. Hy plant hulle en wag dat die reën hulle grootmaak.

15. Wanneer hy dit afkap, gebruik die mens die hout om vuur te maak. Hy maak homself daarmee warm, of hy gebruik dit vir die vuur waarmee hy brood bak. Maar hy gebruik van dieselfde hout om vir hom ’n god te maak waarvoor hy buig. Hy maak daarvan ’n afgodsbeeld en dan gaan buig hy in aanbidding voor die beeld.

16. Met die een helfte maak hy vuur. Hy braai vleis daarop en eet tot hy versadig is. Hy sit by die vuur om homself warm te maak. Hy sê ewe tevrede: “Ai, ek kry nou lekker warm. Dis lekker hier by die vuur.”

17. Van die hout wat nog oor is, gaan maak hy dan vir hom ’n afgodsbeeld. Hy buig voor die beeld neer en aanbid dit. Hy bid tot die beeld en hy sê: “Jy is my god. Jy moet my red!”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 44