Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 37:21-38 Die Boodskap (DB)

21. Hierop het Jesaja die volgende boodskap van die Here vir Hiskia gestuur: Die Here die God van Israel het jou gebed oor Sanherib, die koning van Assirië, gehoor.

22. Vir hom het die Here die volgende boodskap: Die stad Sion spot met jou en verag jou, Sanherib. Jerusalem steek vir jou tong uit en kyk jou met minagting agterna terwyl jy wegvlug.

23. Vir wie dink jy het jy so verneder en belaglik gemaak? Teenoor wie het jy so grootgepraat en op wie het jy neergesien? Dit was op My, die heilige God van Israel.

24. Jy het jou amptenare gestuur om die Here te spot en uit te tart. Dit is jy wat gespog het oor hoe baie strydwaens jy het en hoedat jy met hierdie strydwaens reg oor die Libanonberge sal ry, hoedat jy selfs die hoogste en mooiste seder- en sipresbome tot teen die grond gaan afkap. Jy het gespog dat jy die hoogste wegkruipplekke uitgesnuffel het en diep in die bos ingedring het sodat niemand vir jou kan wegkruip nie.

25. “Ek het in baie vreemde lande hulle fonteine vir my gevat sodat ek my dors kon les met hulle water. Ek het selfs die riviere in Egipte opgedam sodat my soldate daardeur kon trek,” spog jy.

26. Sanherib, is jy die enigste een wat dit nie weet nie; wie dink jy het al hierdie dinge beplan? Dit was Ek, die Here! Ek het lank terug al beplan dat jy versterkte stede in murasies sal verander. Al wat gebeur het, is dat Ek jou nou toegelaat het om dit te doen.

27. Dit is hoekom hulle mense nie teen jou kan veg nie en hoekom hulle so ’n maklike prooi vir jou is. Hulle het geen verweer nie, byna soos nuutgeplante gras waaroor ’n klomp mense skielik begin loop: daardie gras staan nie ’n kans om te groei nie.

28. Maar Ek ken jou. Ek weet van elke beweging wat jy maak. Ek weet ook hoe jy My in jou woede uitgeskel het.

29. Omdat Ek al hierdie goed moes beleef, gaan Ek jou mak maak. As ’n mens ’n ring in ’n bul se neus sit, is hy so mak soos ’n lam en kan jy met hom doen net wat jy wil. So gaan Ek vir jou ’n ring in jou neus sit en jy sal moet doen wat Ek sê. En soos ’n mens ’n perd kan stuur net waarheen jy wil as jy ’n stang in sy bek gesit het, gaan Ek jou stuur; in een rigting: terug met die pad waarmee jy gekom het!

30. Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hierdie is die bewys dat die Here hierdie stad teen die koning van Assirië sal beskerm. Hierdie jaar en volgende jaar sal julle koring eet wat vanself opgekom het van die saad wat in die grond oorgebly het. Maar die jaar daarop sal julle weer kan saai en oes. Julle sal ook julle wingerde kan versorg en van die druiwe eet.

31. Die klompie mense van Juda wat die slag oorleef het, sal weer gevestig raak in die land, soos ’n boom wat sy wortels in die grond laat ingroei en dan sterk word en later vrugte dra.

32. Daar sal mense oorbly in Jerusalem en op Sion en hulle sal van daar af weer ’n nuwe begin maak. Ek, die Here die Almagtige, sal daarvoor sorg omdat Ek hulle so liefhet.

33. Wat die koning van Assirië betref, sê die Here: hy sal nie sy voete in hierdie stad sit of ’n enkele pyl soontoe afskiet nie. Niemand van sy soldate met hulle swaarde en skilde sal ’n kans kry om eens in die rigting van die stad te beweeg of om grondwalle teen die muur te probeer opbou sodat hulle in die stad kan inkom nie.

34. Die koning van Assirië sal met leë hande teruggaan met dieselfde pad waarmee hy gekom het. Hy sal nie naby Jerusalem kom nie. Ek, die Here, sê so!

35. Ek sal die stad beskerm en verdedig om my eer te beskerm en ter wille van my belofte wat Ek aan my dienaar, Dawid, gemaak het.”

36. Daardie nag is die engel van die Here in die Assiriërs se kamp in en hy het 185 000 van hulle soldate doodgemaak. Toe die oorlewendes die volgende môre wakker word, het die lyke die hele kamp vol gelê.

37. Sanherib het net daar kamp opgebreek en teruggegaan Nineve toe.

38. Op ’n dag het hy na een van sy afgodstempels toe gegaan om sy god met die naam Nisrog te aanbid. Twee van sy seuns, Adrammelek en Sareser, het stilletjies ingekom en hom met hulle swaarde doodgesteek. Daarna het hulle na die gebied van Ararat toe gevlug en daar gaan bly. Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 37