Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 33:4-14 Die Boodskap (DB)

4. Die mense sal op die buit wat hulle agterlaat, toesak en dit plunder soos ’n swerm sprinkane op ’n groen land.

5. Die Here is groot en Hy regeer oor die hele aarde. Hy sal sorg dat daar reg en geregtigheid in Jerusalem geskied.

6. In daardie tyd sal Hy die fondament wees waarop julle met vertroue kan bou. Hy sal julle oorlaai met ’n skat van wysheid en kennis wat tot julle verlossing sal lei. Maar die sleutel tot hierdie skat is die ontsag wat julle vir die Here het.

7. Die soldate is verslae omdat hulle Jerusalem nie kon verdedig teen die vyand se oormag nie. Die ambassadeurs wat gestuur is om ’n vredesooreenkoms te probeer bewerk huil van teleurstelling omdat hulle dit nie kon regkry nie.

8. Die paaie sal verlate lê omdat dit te gevaarlik sal wees om te gebruik. Die verwoester steur hom nie aan ooreenkomste of kontrakte wat hy voor getuies aangegaan het nie, hy doen net wat hy wil, want hy het geen respek vir enigiemand nie.

9. Die land verdroog en gaan agteruit. Op die Libanon is die bome in die woud besig om dood te gaan. Die vrugbare vlakte van Saron lyk soos ’n woestyn. In Basan en op die berg Karmel val die bome se blare af soos hulle doodgaan.

10. Nou gaan Ek ingryp, sê die Here, Ek sal julle wys hoe magtig Ek is!

11. Al die planne wat julle gemaak het, is nutteloos, julle sal niks regkry nie. Die verskriklike goed waarmee julle ander nasies gedreig het, sal omgekeer word en soos ’n verwoestende vuur op julle neerkom.

12. Julle mense sal totaal vernietig word soos die klippe wat verbrand word om kalkpoeier te maak. Hulle sal tot as verbrand word soos ’n hoop droë doringtakke wat aan die brand gesteek word.

13. Vertel vir al die volke wat Ek gedoen het, of hulle naby is of ver, sodat hulle my mag sal erken.

14. Maar ook die sondaars en slegte mense in Jerusalem bewe van vrees. Hulle sê: “Die Here se oordeel is soos ’n verwoestende vuur wat vir ewig bly brand. Hoe kan ons hoop om in sy teenwoordigheid te oorleef?”

Lees volledige hoofstuk Jesaja 33