Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 28:3-14 Die Boodskap (DB)

3. Samaria, die trots van sy dronk leiers, sal deur die vyand tot stof vertrap word.

4. Die pragtige stad wat so hoog op die berg sit en afkyk op die vrugbare vallei is klaar besig om te verdwyn. Dit sal met Samaria gaan soos met die vroeë vye wat voor die somer ryp word: as iemand so ’n vy sien, pluk hy dit dadelik en eet dit op sonder om eers daaroor te dink.

5. Op daardie dag sal die Here die Almagtige die Een wees oor wie sy volk sal roem. Soos mense met verwondering na ’n pragtige kroon kyk wat ’n koning dra, so sal die mense wat van sy volk oorgebly het, na die Here kyk.

6. Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee.

7. Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.

8. Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie.

9. Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies?

10. Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.”

11. Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer!

12. God het vir sy volk rus en vrede in hierdie land belowe as hulle na Hom sou luister, maar hulle wou nie.

13. Daarom spel die Here nou sy boodskap vir hulle uit in heel eenvoudige taal, letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël. Ten spyte hiervan sal hulle oor hierdie eenvoudige woorde struikel en val om nooit weer op te staan nie. Hulle sal gewond, gevang en met toue vasgebind word.

14. Die Here het iets vir julle te sê, julle arrogante klomp leiers van Jerusalem.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 28