Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 16:1-10 Die Boodskap (DB)

1. Die vlugtelinge by Sela in die woestyn stuur lammers Jerusalem toe as ’n teken van onderdanigheid aan die koning van Juda.

2. Hulle fladder heen en weer by die driwwe van Arnon rond soos ’n klomp verskrikte voëls wat uit hulle neste verdryf is.

3. Hulle pleit by die inwoners van Juda: “Gee vir ons raad! Doen tog iets om ons te help. Beskerm ons en gee vir ons skuilplek waar ons nie gesien kan word nie, want ons vyande is warm op ons spoor. Ons is vlugtelinge, moet ons nie aan ons vyande uitlewer nie.

4. Laat die vlugtelinge uit Moab tog by julle bly totdat die gevaar verby is. Beskerm ons teen ons vyande wat ons wil vernietig.” As die krisis verby is en die verwoesting ophou en die invalsmagte uit die land uit is,

5. sal die Here, omdat Hy getrou bly aan sy beloftes, ’n goeie regeerder in Jerusalem aan bewind laat kom. Hierdie koning uit Dawid se nageslag sal betroubaar wees en hy sal hom beywer vir wat reg is.

6. Ons het gehoor van Moab se hoogmoedigheid. Ongelukkig was al hierdie hovaardigheid en grootpratery niks anders as leë woorde nie.

7. Daarom huil al die Moabiete oor wat met die land gebeur het. Hulle huil van verslaentheid as hulle besef dat die lekkernye van Kir-Geres iets van die verlede is.

8. Die plase in die omgewing van Gesbon is verwoes en die wingerde by Sibma is verdroog. Hierdie wingerde se wyn het baie konings en heersers dronk gemaak. Hulle ranke het welig en ver gegroei, van Jaser in die noorde deur die woestyn tot by die Dooie See in die suide.

9. Ek huil saam met Jaser se mense oor die wingerde van Sibma. Die trane loop oor my wange as Ek aan Gesbon en Elale dink, want daar is nie sprake van ’n oes waaroor die mense bly kan wees nie.

10. Die vrolike stemme in die vrugteboorde is stil, niemand sing meer in die wingerde nie. Niemand trap meer wyn in die parskuipe nie, want die Here het ’n einde gemaak aan al die oesvreugde. Daar is niks om te oes nie.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 16