Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 8:8-15 Die Boodskap (DB)

8. “Hoe kan julle sê: ‘Ons het kennis, want ons het die voorskrifte van die Here’? Die skrywers wat hierdie voorskrifte neergeskryf het, het daaraan verander en dit verdraai.

9. Hierdie kamstige slim skrywers sal in die skande kom, want hulle is verward en vasgevang in hulle eie manier van dink en doen. Hulle dink niks van wat Ek, die Here, sê nie. Is hulle dan nou so danig slim?

10. Ek sal hulle vroue en hulle plase vir ander mense gee. Almal van hulle, of hulle nou klein of groot is, wil ryk word, al is dit nou ook deur ’n ander mens te bedrieg. Selfs die sogenaamde profete van die Here en die godsdienstige leiers doen oneerlike dinge.

11. Hulle gee sommer goedkoop oplossings vir die probleme van my volk. Hulle maak of alles reg is as hulle sê ‘vrede, vrede’ terwyl dit allesbehalwe rustig en vreedsaam gaan.

12. Is hulle miskien skaam oor al die afstootlike goed wat hulle doen? Nee, hulle bloos nie eens nie. Hulle het nie ’n idee wat dit is om skaam te wees nie. Hulle sal ondergaan soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Wanneer Ek hulle straf, sal dit klaarpraat wees met hulle,” sê die Here.

13. Die Here het ook gesê: “Juda was soos ’n boord wat geen vrugte dra nie. Nutteloos! Hulle lewer niks goeds op nie. Hulle is soos ’n wingerd sonder druiwe of soos ’n vyeboom sonder vye. Selfs die blare is verdroog. Daarom sal hulle al die goeie dinge verloor wat Ek vir hulle gegee het.”

14. Die volk van die Here vra: “Hoekom sal ons hier op ’n hoop sit en doodgaan? Party van die stede is sterker gebou om mense in oorlogtye teen die vyand te beskerm. Kom ons gaan in hierdie stede in, want dan gaan ons ten minste dood terwyl ons probeer het om terug te baklei. Die Here ons God het reeds besluit dat ons moet doodgaan. Die Here wou hê dat ons aan Hom lojaal moes wees, maar ons was nie. Ons het die toets vir lojaliteit gedruip en daarom sal ons sterf.

15. Ons het gehoop vir ’n tyd van vrede, maar daar het niks van gekom nie. In plaas van ’n tyd waarin ons gehoop het dat dinge vir ons sou regkom, het iets skrikwekkends met ons gebeur.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 8