Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 7:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Ek sal genadig wees as julle regtig ophou om die dinge te doen wat julle nou doen. Tree regverdig teenoor mekaar op.

6. Moenie mense wat nie van Juda af kom sleg behandel en uitbuit nie. Ook nie weduwees en weeskinders nie. Ek sal ook nie so hard met julle wees as julle sal ophou om onskuldige mense in julle land te vermoor nie. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien.

7. As julle gehoorsaam is aan My, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly. Ek het dit lank terug vir julle voorouers gegee.

8. “Weet julle, die leuens wat julle glo dat julle nie sal swaarkry nie omdat die tempel hier is, gaan julle nêrens bring nie.

9. Dink julle regtig julle kan maar voortgaan om te steel, mense te vermoor, julle huweliksmaat te bedrieg en te lieg? Asof dit nie al is nie, bring julle ook offers vir die god Baäl. Op die koop toe dien julle nog sommer ’n klomp ander gode wat julle vroeër nie eens geken het nie.

10. Dan het julle die vermetelheid om hier in my tempel te kom staan en te sê: ‘Ons is veilig!’ Julle gaan hiervandaan af weg en hou maar net aan om hierdie afskuwelike dinge te doen!

11. Sê My, dink julle dat my tempel ’n wegkruipplek vir skelms behoort te wees? Onthou, Ek sien wat julle doen,” sê die Here.

12. “Gaan na Silo toe waar julle My eers aanbid het. Kyk wat het Ek met Silo gemaak omdat my volk Israel verkeerde dinge gedoen het.”

13. Die Here sê: “Ek het aanhoudend met julle gepraat omdat julle hierdie verkeerde dinge gedoen het, maar julle wou nie na My luister nie. Ek het hard probeer om julle te laat besef dat julle nie reg doen nie, maar julle het My geïgnoreer.

14. Silo bestaan nie meer nie, Ek het die plek verwoes. Julle het al julle hoop op my tempel geplaas. Dit gaan julle niks help nie, want Ek gaan my tempel hier in Jerusalem verwoes net soos Ek Silo tot niet gemaak het. Presies dieselfde gaan gebeur met hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het.

15. Ek gaan toelaat dat ’n vyand julle uit julle land uit wegvat. Dit het met julle familie in die noordelike gebied, Israel, gebeur, nou is dit julle voorland.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 7