Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 6:18-28 Die Boodskap (DB)

18. Al die nasies moet luister na wat Ek sê. Kyk gerus wat met my volk gaan gebeur.

19. Die aarde moet ook oplet wat gaan gebeur. Ek gaan my mense slegte dinge laat beleef. Hulle pluk net die vrugte van hulle eie planne. Hulle het hulle nie gesteur aan wat Ek te sê gehad het nie. My opdragte het hulle verwerp.

20. Dit help net mooi niks dat hulle vir My wierook uit Skeba bring nie. Hulle kan die ander speserye wat uit ander ver lande kom, ook maar hou. Ek weier om offers te aanvaar wat hulle vir My bring om in my goeie boekies te kom. Dit bring vir My geen plesier nie.”

21. Daarom sê die Here: “Ek sal stuikelblokke in die pad van hierdie volk bring waaroor hulle sal val. Ouers en hulle kinders sal hieroor val. Ook hulle bure en vriende sal sterf.”

22. Die Here sê: “Kyk, ’n baie sterk mag kom uit die noorde na Israel toe. Die land waar hulle vandaan kom, is ver van hier af.

23. Hulle is baie goed gewapen. Verder is hulle bekend vir hulle wreedheid. Hulle het geen genade vir niks en niemand nie. As hulle leër so optrek op hulle perde, klink dit soos die gedruis van die see. Hulle soldate is reg om jou te vernietig, Jerusalem.”

24. Ons het stories gehoor oor hierdie wrede vyand. Ons is skoon lam van vrees vir hulle. Ons is baie benoud. Dit is soos die pyn wat ’n vrou ervaar as sy op die punt is om aan ’n kind geboorte te gee.

25. Moenie waag om in die veld te stap nie! Bly weg van die paaie af! Die vyand is gewapen en terroriseer mense oral.

26. My volk, trek die klere aan wat julle altyd dra as julle rou. Doen ook wat julle gewoonlik doen as julle rou oor iemand wat dood is. Gaan lê in die as en huil met ’n stukkende hart asof julle enigste kind dood is. Doen dit, want die vyand wat alles voor hom platvee, sal julle skielik aanval!

27. Die Here sê: “Jeremia, Ek stel jou aan om my volk te toets net soos ’n mens die gehalte van metaal sou toets. Doen jou toetse en vind uit of dit wat hulle doen, goed is.

28. Hulle is almal hardkoppig en opstandig. Hulle loop oral en kwaadpraat van mekaar.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 6