Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 6:12-21 Die Boodskap (DB)

12. Die vyand sal kom en hierdie mense wat My so kwaad maak se huise vat. Hulle sal ook hulle landerye afvat en wat meer is, ook hulle vroue. Ek sal die burgers van hierdie land straf,” sê die Here.

13. “Almal, van die eenvoudigste tot die vernaamste mense, probeer op ’n skelm manier ryk word. Selfs ook die profete en die priesters doen oneerlike dinge.

14. Hulle probeer die probleme van die Here se mense met goedkoop raad oplos. Hulle maak of alles reg en goed is, terwyl dit eintlik baie sleg gaan.

15. Is hulle enigsins skaam as hulle uitgevang word oor die gruwels wat hulle gedoen het? Glad nie! Hulle bloos nie eens omdat hulle skaam is nie. Daar is nie hoop vir hulle nie. Hulle sal ondergaan net soos ander mense voor hulle ondergegaan het. Dit sal hulle einde wees wanneer Ek hulle die dag straf,” sê die Here.

16. Die Here sê: “As julle by ’n plek kom waar julle belangrike besluite moet neem, moenie oorhaastig wees nie. Wag ’n bietjie en kyk eers wat mense vroeër gedoen het. Doen dan wat die beste is. Julle sal dan weet dat julle die regte ding gedoen het. Maar julle het gesê: ‘Dit is nie wat ons wil doen nie!’

17. Ek het wagte aangestel om julle te waarsku as daar gevaar is, maar julle het gesê: ‘Ons sal nie luister nie!’

18. Al die nasies moet luister na wat Ek sê. Kyk gerus wat met my volk gaan gebeur.

19. Die aarde moet ook oplet wat gaan gebeur. Ek gaan my mense slegte dinge laat beleef. Hulle pluk net die vrugte van hulle eie planne. Hulle het hulle nie gesteur aan wat Ek te sê gehad het nie. My opdragte het hulle verwerp.

20. Dit help net mooi niks dat hulle vir My wierook uit Skeba bring nie. Hulle kan die ander speserye wat uit ander ver lande kom, ook maar hou. Ek weier om offers te aanvaar wat hulle vir My bring om in my goeie boekies te kom. Dit bring vir My geen plesier nie.”

21. Daarom sê die Here: “Ek sal stuikelblokke in die pad van hierdie volk bring waaroor hulle sal val. Ouers en hulle kinders sal hieroor val. Ook hulle bure en vriende sal sterf.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 6