Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:7-14 Die Boodskap (DB)

7. Toe is daar in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Die Babiloniërs was nou wel oral rondom die stad, maar in die nag het die soldate uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek wat tussen die twee mure was, agter die tuin van die koning, uitgegaan. Toe het hulle oor die veld in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

8. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia op die vlakte naby Jerigo ingehaal. Daar het sy leër hom gelos en in alle rigtings gespat.

9. Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar wat in Ribla was, gebring. Ribla was in die Hamatgebied. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor en besluit wat van hom sou word.

10. Daar by Ribla het die koning van Babel Sedekia se twee seuns voor hom doodgemaak. Hulle het ook van die ander leiers van Juda daar doodgemaak.

11. Hulle het toe ook Sedekia se oë uitgesteek. Daarna het hulle hom in kettings geboei en hom weggevat Babel toe. In Babel het hulle hom in die tronk gesit. Daar het hy gebly tot sy dood.

12. Op sewentien Augustus 586 v.C. het Nebusaradan in Jerusalem aangekom. Hy was die hoof van die lyfwag van koning Nebukadnesar van Babel. Dit was die negentiende jaar dat Nebukadnesar koning was.

13. Hy het die tempel, die koning se paleis en al die huise in Jerusalem afgebrand. Hy het al die belangrike geboue in Jerusalem afgebrand.

14. Die Babiloniese leër wat saam met Nebusaradan was, het self die mure van Jerusalem afgebreek.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52