Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 52:1-11 Die Boodskap (DB)

1. Sedekia was 21 jaar oud toe hy koning geword het. Hy was elf jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma se naam was Gamutal. Sy was die dogter van Jeremia wat van Libna af gekom het.

2. Sedekia het net soos Jojakim dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was.

3. Die Here was baie kwaad daaroor. Hy het toe die mense van Jerusalem en Juda van Hom af weggestuur na ’n ander land toe. Sedekia het toe in opstand gekom teen koning Nebukadnesar van Babel.

4. Op die vyftiende Januarie, in die negende jaar dat Sedekia koning van Juda was, het koning Nebukadnesar met sy hele leër teen Jerusalem opgetrek. Die soldate het die stad omsingel en hulle oral rondom die stad ingegrawe.

5. Hulle het Jerusalem so afgesny gehou van die buitewêreld tot in die elfde jaar dat Sedekia koning was.

6. Teen die agtiende Julie van dieselfde jaar was daar ’n krisis in die stad. Daar was niks meer kos vir die mense in Jerusalem en in die land nie.

7. Toe is daar in ’n gedeelte van die stadsmuur ’n gat deurgebreek. Die Babiloniërs was nou wel oral rondom die stad, maar in die nag het die soldate uit die stad probeer ontsnap. Hulle het by ’n hek wat tussen die twee mure was, agter die tuin van die koning, uitgegaan. Toe het hulle oor die veld in die rigting van die Jordaanvallei gevlug.

8. Maar die Babiloniërs het hulle agtervolg. Hulle het koning Sedekia op die vlakte naby Jerigo ingehaal. Daar het sy leër hom gelos en in alle rigtings gespat.

9. Hulle het Sedekia gevang en hom na koning Nebukadnesar wat in Ribla was, gebring. Ribla was in die Hamatgebied. Koning Nebukadnesar het hom daar verhoor en besluit wat van hom sou word.

10. Daar by Ribla het die koning van Babel Sedekia se twee seuns voor hom doodgemaak. Hulle het ook van die ander leiers van Juda daar doodgemaak.

11. Hulle het toe ook Sedekia se oë uitgesteek. Daarna het hulle hom in kettings geboei en hom weggevat Babel toe. In Babel het hulle hom in die tronk gesit. Daar het hy gebly tot sy dood.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 52