Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:6-16 Die Boodskap (DB)

6. “Vlug uit Babel uit! Red julleself! Sorg dat julle nie julle lewe verloor as Babel gestraf word nie. Dit is nou die tyd dat Ek besluit het om wraak te neem. Ek gaan die stad nou terugbetaal vir alles wat hulle teen My gedoen het.

7. Die Here gaan Babel gebruik om die nasies te straf. Babel is soos ’n goue beker in die Here se hande. Al die nasies van die wêreld sal van die wyn in die beker drink en dronk word. Hulle sal mal word van die wyn wat hulle gedrink het.

8. Maar iets snaaks het gebeur. Skielik het Babel nou ook geval. Dis verwoes. Huil oor die stad! Gee vir haar medisyne vir al die pyn wat sy het. Wie weet, miskien kan die stad weer gesond word.

9. Ons sou die stad gehelp het as ons kon, maar niks kan Babel nou meer red nie. Kom weg uit die stad! Gee pad uit Babel! Laat elke mens na sy eie land toe teruggaan. Wat met Babel gaan gebeur, is nou in die Here se hande. Hy sal besluit wat om te doen.

10. Die Here het bewys dat ons nie skuldig is nie. Kom ons gaan Jerusalem toe. Daar kan ons alles vertel wat die Here ons God gedoen het.”

11. Die Here het die koning van die Mediërs laat lus kry om teen die Babiloniërs op te trek en hulle te vernietig. Hy wil wraak neem omdat hulle die tempel beskadig het. Daarom por die Here die Mediërs aan: “Kry julle wapens reg om te kan veg!

12. Gee die teken met die vlag om te wys die oorlog teen die Babiloniërs het begin. Val die mure van Babel aan! Sorg dat daar oral wagte op hulle plekke is en dat hulle op en wakker is. Stel ook vir hulle hinderlae om in vas te loop.” Die Here weet wat Hy vir die Babiloniërs in gedagte het. Hy sal sorg dat wat Hy beplan het, so sal gebeur.

13. Babel is gelukkig om baie water te hê. Dit is ook ’n stad met baie rykdom. Maar nou is die waarheid dat die einde van die stad om die draai is. Hulle lewensdraadjie word geknip.

14. Die Here wat sterker as alles en almal is, sweer by Homself: “Julle kan vir seker weet, julle vyande sal julle stad oorspoel net soos ’n swerm sprinkane met ’n koringland maak. Hulle sal luidkeels skree om te wys dat hulle Babel verslaan en ingeneem het.”

15. Die Here het die aarde deur sy krag gemaak. Deur sy kennis het Hy die wêreld gemaak en deur sy insig het die uitgestrekte hemel vorm gekry.

16. As Hy praat, is daar donderweer in die hemel. Hy laat die wolke oor die aarde opkom. Verder laat Hy ook die weerlig slaan as dit reën. Hy laat die wind uit sy stoorkamers uitkom.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51