Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 51:53-63 Die Boodskap (DB)

53. Dit is so dat Babel so hoog gebou is dat dit amper aan die hemel raak. Die stad se torings is ook sterker gemaak om aanvalle te kan weerstaan. Al is dit so, Ek sal vyande stuur om Babel aan te val. Ek, die Here, sê dit sal so gebeur!”

54. Hoor hoe skree hulle in Babel. ’n Mens hoor die groot lawaai soos die land vernietig word.

55. Die Here is besig om Babel te verwoes. Hy sal die rumoer in die stad laat stil word. Die vyand sal met ’n gedreun teen die stad aanstorm soos die golwe van ’n massa water. Hulle skree oorlogskrete terwyl hulle die stad bestorm.

56. ’n Vyand trek teen Babel op om die stad te verwoes. Hulle sal die soldate gevange neem en hulle wapens stukkend slaan. Die Here sorg dat mense die straf kry wat hulle verdien. Dit is presies wat Hy besig is om met Babel te doen. Hulle kry die straf wat hulle toekom.

57. Die Here is Koning en sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die leiers dronk maak. Dit sluit in die senior amptenare, raadgewers, offisiere en soldate. Hulle sal aan die slaap raak en nooit weer wakker word nie.”

58. Die Here sê ook: “Babel se mure is baie dik, maar sal met die grond gelykgemaak word. Die hekke van die stadsingange is baie hoog, maar sal met vuur verbrand word. Hulle het baie mense van ander lande gedwing om vir hulle te werk, maar al hulle werk was verniet. Dit sal met vuur verbrand word.”

59. Jeremia was ’n profeet van die Here. Hy het ’n boodskap saam met Seraja na Babel toe gestuur. Seraja was die seun van Nerija en kleinseun van Magseja. Hy het saam met koning Sedekia na Babel gery en was verantwoordelik vir die reisreëlings. Dit was in die vierde jaar dat Sedekia koning van Juda was.

60. Jeremia het al die rampe en ellendes wat Babel sou tref, in ’n boek opgeskryf.

61. Hy het vir Seraja gesê: “Wanneer jy in Babel kom, moet jy alles wat in die boek geskryf is, hardop lees.

62. Jy moet sê: ‘Here, U het gesê dat U hierdie stad so erg gaan verwoes dat geen mens of dier meer hier sal bly nie. Die stad sal vir altyd so leeg en verlate bly.’

63. As jy die boek klaar gelees het, moet jy dit aan ’n klip vasmaak en in die middel van die Eufraatrivier gooi.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 51