Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50:17-27 Die Boodskap (DB)

17. Die Here sê ook: “Die mense van Israel is soos skape wat deur leeus uitmekaargejaag is. Eers het die koning van Assirië hulle begin eet en nou is Nebukadnesar, die koning van Babel, besig om hulle bene te kou.”

18. Die Here wat die God van Israel is, is sterker as alles en almal. Hy sê: “Ek sal die koning van Babel en sy land straf net soos Ek die koning van Assirië gestraf het.

19. Verder sal Ek die mense van Israel na hulle land toe laat terugkom. Hulle sal weer in die omgewing van Karmel en Basan ’n bestaan maak. Die heuwelgebied van Efraim en Gilead sal vir hulle genoeg gee om van te leef.

20. In hierdie spesifieke tyd sal ’n mens verniet soek na verkeerde dinge wat Israel en Juda sou gedoen het, want dit sal weg wees. Ek het ’n groep mense in die land laat agterbly toe ander van hulle volk uit die land weggevat is. En hierdie mense het Ek vergewe vir wat hulle verkeerd gedoen het.”

21. Die Here sê: “Trek op en gaan baklei teen die Babiloniërs, van Meratajim af tot by Pekod. Agtervolg die mense, maak hulle dood en laat hulle heeltemal verdwyn. Doen alles presies soos Ek vir julle sê om te doen.

22. ’n Mens hoor die geraas van oorlog en die groot verwoesting.

23. Die Babiloniërs was soos ’n groot hamer wat die wêreld se mense verpletter het. Nou is dit hulle beurt om stukkend geslaan en gebreek te word. Die nasies sal hulle doodskrik as hulle die toestand van die Babiloniërs sien.

24. Ek het vir jou ’n strik gestel, Babel, en jy het daarin getrap sonder dat jy eers geweet het. Jy is gevang omdat jy My, die Here, probeer aanvat het.”

25. Die Here het die bêreplek van sy wapens oopgemaak. Hy het wapens uitgehaal wat Hom sou help om sy woede teen sy vyande te laat uitkom. Hy sê: “Ek, die Here, het ’n werk wat Ek in die land van die Babiloniërs wil doen.

26. Val die Babiloniërs van alle kante af aan. Breek die skure oop waar hulle die graan bêre. Maak die mense op ’n hoop bymekaar soos ’n hoop graan. Vernietig alles! Laat niks en niemand oorbly nie!

27. Vat selfs die bulle na die slagplek en maak hulle daar dood. ’n Baie, baie slegte tyd het vir Babel gekom. Die tyd van hulle straf het gekom.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 50