Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 50:10-17 Die Boodskap (DB)

10. Die aanvallers sal die Babiloniërs beroof totdat hulle tevrede voel dat hulle genoeg gevat het.”

11. Die Here sê: “Julle mense van Babel, julle het my mense wat Ek vir My uitgesoek het, besteel. En nou is julle boonop vrolik en bly daaroor. Julle gaan te kere soos ’n kalf wat in die gras rondspring of soos ’n perd wat runnik.

12. Maar julle eie land sal nog met skande en skaamte oorval word. Julle sal verneder word en in die skande kom. Van al die volke sal die mense die minste van julle dink. Julle land sal ’n dorre en verlate woestyn word.

13. Die Here sal sy woede op Babel uithaal. Dit sal ’n plek sonder mense word. Mense sal nie meer daar wil bly nie omdat dit so ’n verwoeste en verlate plek is. Mense wat daar verbyloop, sal geskok wees en fluit van verbasing oor die toestand van die plek.”

14. Die Here sê: “Julle almal wat boogskutters is, omsingel Babel en maak julle reg om aan te val. Laat julle pyle sonder ophou op hulle reën. Die mense van Babel het verkeerde dinge gedoen waarvan die Here net mooi niks hou nie.

15. Skree maar gerus daar waar julle julle plekke ingeneem het om die stad. Babel het oorgegee. Die mure van die stad het omgeval. Die Here straf hierdie mense nou, julle hoef hulle nie te spaar nie. Doen aan hulle soos hulle aan ander mense gedoen het.

16. Vat die mense wat op die lande werk en saai uit Babel weg. Doen dit ook met die mense wat die oes van die lande af inbring. Die mense wat gevangenes in Babel is, moet sorg dat hulle ontsnap as die gevegte aan die gang is. Hulle moet na hulle eie land en mense toe wegvlug.”

17. Die Here sê ook: “Die mense van Israel is soos skape wat deur leeus uitmekaargejaag is. Eers het die koning van Assirië hulle begin eet en nou is Nebukadnesar, die koning van Babel, besig om hulle bene te kou.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 50