Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 49:27-36 Die Boodskap (DB)

27. Ek sal ’n vuur in Damaskus aan die brand steek. Al koning Ben-Hadad se versterkte skuilplekke sal afgebrand word.”

28. Die volgende is wat die Here oor Kedar en die koninkryke van Gasor sê. Koning Nebukadnesar van Babel het hulle aangeval.Die Here sê: “Maak reg en val Kedar aan! Vernietig die mense uit die ooste!

29. Die tente waarin hulle bly en ook hulle vee sal geroof word. Alles wat hulle in hulle blyplekke het, sal gevat word. Hulle kamele sal ook gesteel word. Die mense sal vir hulle skree: ‘Om elke hoek en draai is daar gevaar!’”

30. Die Here se raad vir die mense van Gasor is: “Vlug vir julle lewe! Gaan kruip weg in plekke wat veilig is. Koning Nebukadnesar het planne gereed oor wat hy met julle wil maak. Hy weet presies wat hy wil doen.”

31. Die Here se opdrag is: “Gaan val die volk aan wat so rustig bly. Hulle dink dat hulle baie veilig is. Hulle bly daar eenkant alleen sonder goed soos hekke en slotte om hulle te beskerm.

32. Vat gerus al hulle kamele en hulle groot getalle vee vir julle as buit. Ek sal hierdie mense wat so op die rand van die woestyn bly, in alle windrigtings verjaag. Ek sal dat rampe hulle van alle kante af tref. Ek, die Here, sê so.

33. Gasor sal ’n eensame en verlate plek word. Mense sal nie meer daar bly nie. Dit sal net ’n plek wees waar jakkalse bly.”

34. Jeremia was ’n profeet van die Here. Die Here het vir hom sekere dinge oor Elam gesê. Dit was net toe Sedekia koning van Juda geword het.

35. Die Here wat sterker as alles en almal is, het gesê: “Elam se krag lê in sy goeie boogskutters. Maar Ek sal hulle krag vernietig deur hulle boë te breek.

36. Ek sal dat die vyand van Elam al die mense van Elam in verskillende rigtings verstrooi. Dit sal wees soos winde wat Ek uit die vier windrigtings laat kom om hulle te verwaai. Daar sal nie ’n volk êrens wees by wie die mense wat uit Elam gevlug het, nie sal aanland nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 49