Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 46:4-18 Die Boodskap (DB)

4. Ruiters, kry die perde reg en klim op! As julle julle helms opgesit het, julle spiese blink en reg het en julle beskermende harnasse aanhet, neem dan julle plek in vir die geveg!

5. Maar wat sien Ek? Die Egiptiese leër is verskrik. Hulle het teruggedraai. Hulle beste vegters is verslaan en kies die hasepad sonder om eens terug te kyk. Hulle word van alle kante af bedreig,” sê die Here.

6. “Selfs nie die vinnigstes kan wegkom nie. Die sterkste soldate kan ook nie ontsnap nie. Aan die noordekant by die walle van die Eufraatrivier struikel hulle en val.

7. Wie is dit wat soos die stygende water van die Nyl is? Die water bruis op en stroom oor die land soos riviere wat vloei.

8. Dit is die Egiptiese leër wat soos die water van die Nyl maak. Dit bruis soos ’n aanstormende rivier in vloed. Hulle sê dat hulle sal optrek en die aarde sal oorspoel. Hulle sal stede en die mense wat daarin bly, saam verwoes.

9. Hits die perde aan om vorentoe te gaan, laat die oorlogswaens optrek! Laat al die bondgenote uit Etiopië, Libië en Lidia wat hulle wapens goed kan gebruik, opruk!

10. Hierdie dag is die dag van die Here. Hy is sterker as alles en almal. Dit is ’n dag om wraak te neem op sy vyande en hulle terug te betaal. Dit sal ’n bloedige geveg wees. Baie mense sal doodgaan. Die groot klomp mense van die vyand wat in die noordelike deel van die land op die oewer van die Eufraatrivier sal omkom, sal vandag vir die Here wees soos offers wat gebring word.

11. Egipte, jy wat soos ’n jongmeisie is, gaan Gilead toe en kry salf! Maar jy moet weet, al jou medisynes sal jou nie gesond maak nie.

12. Die nasies het gehoor van die skande wat jou oorgekom het. Jou uitroepe van wanhoop word oral gehoor. Die een soldaat val teen die ander totdat hulle al twee saam neerslaan.”

13. Die Here het nog dinge vir Jeremia gesê. Dit het gegaan oor koning Nebukadnesar se planne om Egipte aan te val.

14. “Gaan sê dit in Egipte vir almal om te hoor! Laat die mense dit ook in die stede Migdol, Memfis en Tagpanges hoor! Maak julle reg vir ’n geveg, want dit sal rof gaan in die oorlog.

15. Hoekom het jou magtige god Apis geval? Dit is omdat die Here hom geslaan het dat hy platval.

16. Die Here het baie van die soldate laat struikel en teen mekaar laat val. Hulle het gesê: ‘Kom laat ons teruggaan na ons eie mense en na die land waar ons gebore is. Laat ons net wegkom van ons vyand wat ons wil doodmaak!’

17. Hulle sal van die farao sê: ‘Die koning van Egipte is ’n windsak wat ’n kans deur sy vingers laat glip het.’”

18. Die Here is Koning! Hy is sterker as alles en almal. Hy sê: “So waar as wat Ek lewe, iemand gaan teen Egipte optrek wat soos Tabor hoog bo die ander berge sal uitstaan of soos Karmel bo die see.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 46