Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 42:13-20 Die Boodskap (DB)

13. Maar julle sal aan My ongehoorsaam wees as julle sê: ‘Ons wil nie in hierdie land bly nie,’ maar sê:

14. ‘Nee, ons wil in Egipte gaan bly! Daar sal ons vry wees van oorloë, van oproepe om te gaan baklei en van ’n skaarste aan kos.’

15. As dit is wat julle sê, luister dan gerus wat die Here sê vir die groep van julle wat in Juda oor is. Die Here wat die God van Israel is en sterker is as alles en almal, sê: As julle vasskop en sê dat julle in Egipte wil gaan bly,

16. sal gevegte en hongersnood julle agtervolg. En uiteindelik sal julle in Egipte doodgaan.

17. Dit is wat vir elkeen van julle wag as julle daarop aandring om in Egipte te gaan bly. Julle sal daar doodgaan in ’n geveg of van honger omkom of deur die een of ander epidemie getref word. Niemand van julle sal kan wegkom of die rampe oorleef wat Ek julle daar sal laat tref nie.”

18. Die Here wat die God van Israel is, sê: “Net soos Ek die mense van Jerusalem my woede en my straf laat voel het, net so maak Ek met elke mens wat na Egipte toe sal gaan. Mense sal skrik en bang word as hulle sien wat met julle gebeur. Hulle sal met julle spot en julle naam gebruik om ’n ander mens mee te vloek. Julle sal julle eie land nooit weer sien nie.

19. “Die Here sê vir julle wat as ’n groep in Juda oorgebly het, die volgende: ‘Julle moenie na Egipte toe gaan nie!’ Onthou hierdie waarskuwing wat ek vandag vir julle gee.

20. Julle maak ’n fout wat julle dood sal beteken. Julle het ewe mooi kom vra: ‘Sê net vir ons wat die Here se antwoord is en ons sal dit doen.’ Maar julle was nie eerlik nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 42