Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 38:2-12 Die Boodskap (DB)

2. “Die Here sê: As mense in Jerusalem wil agterbly, sal hulle doodgaan as gevolg van die oorlog, of van honger, of van epidemies. Maar as die mense hulle aan die Babiloniërs oorgee, sal hulle bly lewe.

3. Ek, die Here, sê: Julle kan seker weet dat Jerusalem in die mag van die koning van Babel sal beland. Hy sal die stad inneem.”

4. Die amptenare het vir die koning gesê: “Koning, Jeremia moet doodgemaak word. Hy het ’n slegte invloed op die soldate wat nog in die stad oor is. Die goed wat hy sê, breek die soldate se moed. Maar nie net die soldate s’n nie, ook dié van die gewone mense. Hierdie man se bedoelings is nie goed nie, hy doen net skade aan die mense.”

5. Koning Sedekia het toegegee en gesê: “Dit is reg so, hy is in julle hande. Ek sal niks doen om julle te keer nie.”

6. Die amptenare het toe vir Jeremia gevat en in ’n leë put laat afsak. Hulle het toue gebruik om hom te laat afsak. Die put was in die gedeelte van die paleis waar die wagte gebly het. Dit het aan Malkija behoort. Hy was deel van die koning se familie. Daar was nie water onder in die put nie, net modder. Jeremia het in hierdie modder ingesink.

7. ’n Baie belangrike amptenaar in die paleis met die naam Ebed-Melek het gehoor dat Jeremia in die put was. Ebed-Melek het uit Afrika gekom. In daardie stadium het die koning in die Benjaminhek gesit.

8. Ebed-Melek het van die paleis af na die hek waar die koning was, gegaan en vir hom gesê:

9. “U Majesteit, hierdie mans het ’n verskriklike ding gedoen deur vir Jeremia in die put te gooi. Hy sal van die honger doodgaan. Omtrent al die brood in die stad is op.”

10. Die koning het vir Ebed-Melek beveel: “Vat 30 van my mense saam met jou en trek Jeremia uit die put uit op voordat hy doodgaan.”

11. Ebed-Melek het toe van die mense na die paleis toe saamgevat. Hy het lappe uit die pakkamer gaan haal. Hy het ook ou klere daar gekry. Hy het hierdie lappe en ou klere na die put toe gevat en dit met ’n tou na Jeremia toe laat afsak.

12. Hy het na Jeremia geroep en gesê: “Sit die lappe en ou klere onder jou arms sodat ons jou nie seermaak wanneer ons jou optrek nie.” Jeremia het toe so gemaak.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 38