Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:32-40 Die Boodskap (DB)

32. Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie.

33. Maar so sal die nuwe ooreenkoms lyk wat Ek later met Israel sal maak: Ek sal dit wat Ek van hulle verwag, in hulle gedagtes plant. Hulle sal in hulle hart weet wat Ek van hulle verwag. Dan sal Ek hulle God wees en hulle sal my eie mense wees.

34. Dit sal nie vir hulle nodig wees om hulle bure of familie te leer en vir hulle te sê: ‘Lewe naby aan die Here dat julle Hom kan ken’ nie. Almal, klein en groot, sal reeds hierdie naby kennis van My hê,” sê die Here. “Hulle sal weet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. En Ek sal al die slegte goed vergewe wat hulle gedoen het. Ek sal nooit eens weer dink aan die verkeerde goed wat hulle gedoen het nie.”

35. Dit is die Here wat die son gee sodat daar daglig is. Hy gee ook die maan en die sterre om in die nag lig te maak. Dit is ook Hy wat die see laat beweeg om golwe te maak. Sy Naam is die Here. Hy is sterker as alles en almal. Hy sê:

36. “Net so min as wat Ek hierdie natuurwette sal laat ophou werk, net so min is die kans dat Ek Israel ooit sal verwerp.

37. Die hemel kan eintlik nie gemeet word nie. En die fondasie van die aarde kan eintlik nie ondersoek word nie. Net so min as wat dit gedoen kan word, net so min sal Ek daaraan dink om die mense van Israel weg te gooi oor die verkeerde dinge wat hulle gedoen het.” Dit is wat die Here sê!

38. Die Here sê: “Daar sal ’n dag kom dat die hele Jerusalem weer vir My opgebou sal word. Die bouwerk sal van die Gananeltoring tot by die Hoekingang gedoen word.

39. ’n Maatband sal van hierdie ingang af gespan word tot by die heuwels van Gareb en van daar tot by Goa.

40. ’n Groot gebied sal vir die Here afgesonder word. Dit sluit in die begraafplaas en die ashoop in die vallei. Verder ook die hele veldgedeelte so ver as die Kidronspruit. En in ’n oostelike rigting tot by die ingang bekend as die Perde-ingang. Jerusalem sal nooit weer ingeneem of verwoes word nie.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31