Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 31:23-32 Die Boodskap (DB)

23. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “As Ek Israel se omstandighede verander in Juda en in al hulle stede, sal hulle weer sê: ‘Mag die Here jou voorspoedig maak, Jerusalem!’ Jerusalem is die Here se spesiale woonplek.

24. Al die mense in die stede en in die gebied van Juda, die boere en die herders, sal in rus en vrede saambly.

25. Want Ek sal rus gee aan al die mense wat moeg is. En as daar mense is wat honger is, sal Ek vir hulle kos gee.”

26. By hierdie punt het ek wakker geword en om my rondgekyk. Wat ek ervaar het terwyl ek geslaap het, was baie aangenaam.

27. Die Here het gesê: “Die tyd het nou gekom dat Ek die mense van Israel en Juda meer sal maak. Ek sal ook die getalle van die diere meer laat word.

28. In die verlede het Ek hierdie volk se wortels uitgetrek. Ek het hulle afgebreek. Ek het hierdie volk skade aangedoen en vernietig. Verder het Ek ook slegte dinge oor hulle gebring. Maar Ek sal net mooi die teenoorgestelde doen in die toekoms. Ek sal hulle weer plant net soos ’n mens ’n boom plant. Ek sal hulle weer ’n nasie maak wat ’n reg op ’n bestaan het. Soos ’n gebou steen vir steen opgebou word, so sal Ek hulle ook weer as ’n volk opbou,” sê die Here.

29. “Die mense sal nie langer hierdie spreekwoord gebruik nie: ‘Die ouers het druiwe geëet wat suur is, maar die kinders se mond het op ’n plooi getrek van die suur smaak.’

30. Elke mens sal doodgaan as gevolg van die verkeerde goed wat hy self gedoen het. Dit is die mens wat die suur druiwe geëet het se eie mond wat op ’n plooi sal trek.”

31. Die Here sê: “Die dag sal kom dat Ek ’n nuwe ooreenkoms met Israel en Juda sal maak.

32. Hierdie ooreenkoms sal nie wees soos die een wat Ek met hulle voorouers gemaak het nie. Ek het hulle destyds aan die hand gevat en uit Egipte gelei. Hulle het die ooreenkoms tussen ons verbreek. Dit het nie eens vir hulle saak gemaak dat Ek hulle liefgehad het soos ’n man sy vrou liefhet nie.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 31