Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 29:7-21 Die Boodskap (DB)

7. Doen ook julle deel dat daar vrede en voorspoed in Babel sal wees. Vra ook in gebed vir die Here dat dit goed sal gaan met die stad waar julle aangekom het toe julle uit julle land weggevat is. As dit met Babel goed gaan, sal dit ook met julle goed gaan.”

8. Die Here wat die God van Israel is, sê: “Moenie toelaat dat die profete en die waarsêers wat daar by julle is, julle bedrieg nie. Julle moet julle ook nie steur aan hulle drome nie.

9. Hulle vertel vir julle leuens en dan sê hulle nog dat hulle namens My praat. Ek het hulle beslis nie gestuur nie!” sê die Here.

10. Die Here sê: “Die waarheid van die saak is, julle sal vir 70 jaar in Babel wees. Maar as die tyd verby is, sal Ek begin om al die goeie beloftes wat Ek gemaak het, waar te laat word. Ek sal julle na julle land toe laat terugkom.

11. Ek weet wat Ek vir julle in gedagte het. Ek beplan dat goeie dinge met julle sal gebeur en nie slegte goed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê.

12. Julle sal na My roep en kom bid. Ek sal na julle luister.

13. As julle met alles in julle na My soek, sal julle by My uitkom. Julle sal julle doel bereik deurdat Ek die taal van julle hart sal verstaan.

14. Ek verstaan wat julle graag wil hê. Ek sal sorg dat julle nie langer as gevangenes in ’n ander land sal bly nie. Ek sal julle wegvat tussen al die nasies waar julle nou is. Dit is so dat Ek die rede is dat julle daar in die vreemde sit, maar Ek sal julle na julle eie land toe terugbring,” sê die Here.

15. Dit is waar dat julle mag sê dat die Here vir julle profete in Babel gegee het,

16. maar hoor ’n bietjie wat die Here te sê het oor die konings wat steeds in die familielyn van koning Dawid is. Die Here het ook die een en ander te sê oor julle mense wat in Jerusalem agtergebly het en nie saam met julle na Babel weggevat is nie.

17. Die Here wat sterker as alles en almal is, sê: “Ek sal veroorsaak dat hulle in oorloë beland. Meer as dit nog, hulle sal ook sukkel om kos in die hande te kry. Om nie eens te praat van die siektes wat hulle sal kry nie. Ek sal hulle soos slegte vye maak, te sleg om te eet.

18. Ek gaan dit vir hulle sommer baie moeilik maak. Waar hulle ook al gaan, sal daar oorloë, kosskaarste en siektes wees. Ek sal hulle oor die hele wêreld laat spat. En daar waar hulle kom sal mense skrik oor wat met hulle gebeur het. Mense sal bang wees om naby hulle te kom omdat iets slegs hulle dalk ook kan tref. Hulle sal ander afstoot en verag word. Ander weer sal met hulle spot en grappe oor hulle maak.

19. Die rede hoekom dit so sal gebeur, is doodeenvoudig dat hulle hulle nie aan My steur nie. Hulle luister nie na My nie. Ek het soveel keer al met hulle gepraat deur my profete wat Ek na hulle gestuur het, maar pure verniet.”

20. Maar nou vra ek julle almal wat uit Jerusalem weggevat is en nou in Babel is, luister na wat die Here sê.

21. Hy is die God van Israel. Hy sê dat Agab, die seun van Kolaja, en Sedekia, die seun van Maäseja, sê dat hulle boodskappe bring wat van die Here af kom. Dit is natuurlik alles leuens. Daarom sê die Here: “Ek sal hulle aan Nebukadnesar oorgee. Hy sal hulle laat doodmaak waar almal dit kan sien.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 29