Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 27:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Moenie na julle eie profete luister nie. Ook nie na die waarsêers of mense wat sê hulle kan drome uitlê nie. Moet ook nie julle ore uitleen aan fortuinvertellers of towenaars nie. Hulle sê mos vir julle dat julle julle nie aan die koning van Babel sal hoef oor te gee nie.

10. Hulle vertel vir julle ’n spul leuens. Dit maak net dat julle uit julle land gedryf sal word. Ek sal julle ver weg stuur en daar sal julle doodgaan.

11. Maar al die volke wat hulle aan die koning van Babel oorgee en vir hom werk, sal Ek toelaat om in hulle eie land te bly. Hulle sal kan aangaan om die grond te ploeg en daar te bly soos hulle gewoond was,” sê die Here.

12. Ek het toe dieselfde boodskap aan koning Sedekia van Juda herhaal en gesê: “As julle wil bly leef, moet julle julle oorgee aan die koning van Babel. Werk vir hom en sy mense en julle sal bly leef.

13. Hoekom wil u en u mense doodgaan in ’n oorlog? Hoekom wil julle van honger of in ’n epidemie sterf? Die Here het gesê dit is wat sal gebeur met enige volk wat hulle nie aan die koning van Babel oorgee nie.

14. Moenie luister na julle profete wat sê: ‘Julle sal nie aan die koning van Babel oorgegee word nie.’ Hulle vertel vir julle ’n spul leuens!

15. Die Here sê: Ek het hulle nie gestuur nie. Hulle is vermetel om namens My te praat en dan verkondig hulle nog ’n spul leuens ook! Hulle sal die oorsaak wees dat Ek julle uit julle land sal wegjaag. Julle en hierdie profete met hulle leuens sal doodgaan.”

16. Ek het toe met die priesters en die mense gepraat en gesê: “Die Here sê: Moenie luister na julle profete wat sê dat al die kosbare goed wat uit die tempel van die Here weggevat is, gou uit Babel hiernatoe sal terugkom nie. Hulle lieg vir julle!

17. Moenie na hulle luister nie. Gee julleself aan die koning van Babel oor en julle sal bly leef. Hoekom moet hierdie stad verwoes word omdat julle julle ore aan hulle uitleen?

18. Hulle sê hulle is die Here se boodskappers. As dit so is, laat hulle dan tot die Here wat sterker as alles en almal is, bid. Laat hulle Hom dan vra dat die kosbare goed wat in die tempel van die Here oorgebly het, in die paleis in Juda en in Jerusalem nie na Babel toe weggevat word nie.

19. Die Here het reeds gesê wat met die koperpilare by die ingang van die tempel gaan gebeur. Hy het ook gesê wat met die groot koperbad, die staanders en die ander bakke wat nog in hierdie stad oor is, gaan gebeur.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 27