Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 26:5-16 Die Boodskap (DB)

5. Ek het ook keer op keer my profete na julle gestuur om julle te waarsku. Nie dat julle julle juis aan hulle gesteur het nie. As julle my riglyne en my boodskappers aanhou ignoreer,

6. sal Ek hierdie tempel verwoes soos Ek die aanbiddingsplek Silo verwoes het. Ek sal Jerusalem so sleg laat lyk dat die nasies dit as ’n vloekwoord sal gebruik.”

7. Die priesters, die sogenaamde profete van die Here en al die mense het geluister na wat Jeremia te sê gehad het daar voor die Here se tempel.

8. Toe hy klaar gepraat het en alles gesê het wat die Here vir hom gesê het om vir al die mense te sê, het die omstanders hom aangeval. Hulle het geskree: “Jy moet doodgemaak word oor wat jy sê!”

9. Hulle het gevra: “Wie gee jou die reg om namens die Here te praat? Hoe kan jy sê dat die tempel net soos wat met Silo gebeur het, vernietig sal word? Wie is jy om te sê dat Jerusalem verlate en sonder enige mense sal wees?” Die mense wat daar voor die tempel om Jeremia saamgedrom het, het hom gedreig met hulle houding.

10. Die leiers van Juda was in die paleis toe hulle die nuus hoor van wat voor die tempel gebeur het. Hulle het haastig van die paleis af na die Nuwe Ingang van die tempel gegaan. Daar het hulle ’n vergadering gehou.

11. Die priesters en die profete het toe vir die leiers van Juda en al die mense wat daar rondgestaan het, gesê wat hulle dink. Hulle het gesê: “Hierdie man moet die doodstraf kry! Julle het met julle eie ore gehoor wat hy gesê het. Hy het gesê slegte goed gaan met Jerusalem gebeur.”

12. Toe het Jeremia homself begin verdedig teenoor die leiers en die mense. Hy het gesê: “Die Here het my gestuur met die boodskap wat met die tempel en met Jerusalem gaan gebeur. Elke liewe woord wat ek gepraat het, het die Here vir my gegee om te sê.

13. Maar as julle nou ophou om verkeerde goed te doen en begin doen wat die Here julle God van julle verwag, sal Hy van plan verander en julle nie meer kwaad aandoen soos Hy gesê het Hy gaan doen nie.

14. Met my moet julle maar maak soos julle goeddink. Ek is in julle hande uitgelewer.

15. Maar weet vir seker, as julle my doodmaak, maak julle ’n onskuldige mens dood. Julle, hierdie stad en al die mense van die stad sal die gevolge moet dra as julle dit doen. Ek praat die waarheid as ek sê dat die Here my gestuur het om al hierdie dinge vir julle te kom sê.”

16. Toe het die leiers van Juda en die gewone mense vir die priesters en die sogenaamde profete van die Here gesê: “Hierdie man verdien nie die doodstraf nie. Hy het namens die Here ons God met ons kom praat.”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 26