Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 2:14-28 Die Boodskap (DB)

14. “Het Israel ’n slaaf geword? Hulle is mos nie as slawe gebore nie. Hoekom word hulle dan nou soos ’n prooi wat gejag word?

15. Waarom dreig die vyand Israel dan nou soos leeus wat brul om die prooi te storm? Hulle het die land verwoes en die stede is nou net ’n hoop klippe wat daar lê. Daar is nie meer mense wat daar bly nie.

16. Die Egiptenaars uit Memfis en Tagpanges het Israel se mag gebreek en hulle verneder.

17. Julle het die moeilikheid oor julleself gebring. Ek wou vir julle rigting en leiding gee, maar julle het julle eie koers ingeslaan en julle nie aan My gesteur nie.

18. Wat gaan dit julle help om by Egipte of selfs by Assirië hulp te gaan soek?

19. Julle sal die gevolge dra van die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Julle gaan swaarkry omdat julle julle nie aan My gesteur het nie. Julle sal nog agterkom hoe ’n slegte ding dit is wat julle gedoen het om My in die steek te laat. Wat julle doen, wys dat julle geen respek meer vir My het nie,” sê die Here wat sterker en magtiger as alles en almal is.

20. “Dit is nou al lank terug dat Ek gesorg het dat julle nie meer ander mense se slawe is nie. Nogtans sê julle dat julle nie aan My gehoorsaam sal wees nie. Julle is net soos mense wat rondslaap. Op elke heuweltjie en onder al wat ’n koelteboom is, buig julle voor ander gode neer.

21. Ek verstaan nie hoe dit kon gebeur nie. Toe Ek julle geplant het, was julle soos uitsoekdruiweplante. Die beste soort wat ’n mens kan kry! Hoe is dit dan moontlik dat julle so kon verander dat julle nou soos wilde druiweplante is?

22. Al was julle julle ook met baie seep en met die sterkste wasmiddels, dit sal nie help nie. Al die verkeerde en slegte dinge wat julle gedoen het, is soos vuil vlekke op klere. Niks kan dit uitwas nie,” sê die Here. Niemand het soveel mag soos Hy nie!

23. “Hoe kan julle sê: ‘Dit is nie waar nie! Ons het nie ons knie gebuig voor die beelde wat van die god Baäl gemaak is nie.’ Gaan kyk gerus maar wat julle in die valleie aangevang het. Neem ’n bietjie verantwoordelikheid vir julle doen en late! Julle tree nes ’n kameelkoei op wat rondhardloop op soek na ’n bul.

24. Julle maak soos ’n wildedonkie wat aan die woestyn gewoond is. As dit paartyd is, snuif sy in die lug op soek na ’n hings. Sy word gedryf deur haar drange na die hings. Die hingste hoef nie eens na die merrie te soek nie, sy hardloop agter hulle aan. Julle maak net so in julle gehardloop agter die gode aan.

25. Israel, waarom loop julle agter die gode aan totdat julle skoene deurgeloop is en julle keel brand van die dors? Maar julle sê: ‘Moenie jou asem mors nie. Ons het lief geword vir hierdie vreemde gode. Ons sal nie ophou om voor hulle neer te buig nie!’”

26. “As ’n dief betrap word, kom hy in die skande. Israel se konings, leiers, priesters en die profete sal almal net so in die skande kom oor die verkeerde dinge wat hulle doen.

27. Hulle sê vir ’n beeld wat uit hout gesny is: ‘Jy is my pa.’ En vir ’n beeld wat uit klip gekap is, sê hulle: ‘Ons is jou kinders.’ Hulle steur hulle glad nie aan My nie” sê die Here, “maar net sodra hulle in die moeilikheid is, roep hulle My om hulle te help.

28. Hoekom roep julle nie hierdie gode wat julle gemaak het om julle te kom help nie? As hulle dan so goed is, laat hulle julle uit die moeilikheid help as hulle kan! Julle het omtrent net soveel gode as wat daar stede en dorpe is.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 2