Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 16:3-10 Die Boodskap (DB)

3. Laat Ek jou vertel wat met die kinders wat in hierdie land gebore word en met hulle ouers gaan gebeur:

4. hulle sal van verskriklike siektes doodgaan. Daar sal niemand wees wat sal huil omdat hulle dood is nie. Niemand sal hulle ook begrawe nie. Hulle lyke sal soos mis op die grond bly lê. Hulle sal in oorloë sterf of van die honger doodgaan. Hulle lyke sal deur aasvoëls en roofdiere gevreet word.”

5. Die Here het ook vir my gesê: “Moenie in ’n huis ingaan waar mense besig is om te treur oor iemand wat dood is nie. Moet ook nie saam met hulle huil of sê dat jy jammer is oor wat gebeur het nie. Ek sorg nie meer dat dit met my mense goed gaan nie. Om die waarheid te sê, Ek was altyd baie lojaal aan hulle omdat Ek vir hulle lief was. Ek sal nie langer lojaal wees of vir hulle jammer wees nie.

6. Almal in die land sal doodgaan, of hulle nou belangrike mense of arm mense is. Niemand sal hulle begrawe of oor hulle huil nie. Hulle vriende sal nie maak soos hulle altyd maak as hulle oor iemand treur nie. Hulle sal nie hulleself met skerp voorwerpe sny of hulle hare afsny omdat hulle hartseer is nie.

7. Niemand sal ook eens saam met ’n mens wie se vriend of familielid dood is, ’n stukkie brood eet of iets drink om die persoon te troos nie. Dit maak nie eens saak of dit so ’n persoon se ouers is wat dood is nie.

8. Jeremia, jy moet ook nie na ’n huis gaan waar hulle partytjie hou nie. Moet glad nie saam met hulle eet of drink nie,

9. want,” so sê die Here, die God van Israel, wat sterker as alles en almal is, “voor jy eendag doodgaan, sal jy sien wat Ek gaan doen. Ek sal sorg dat al die gesing en gelag in hierdie land ophou. Die vrolike stemme van bruide en bruidegomme sal ook stil word.

10. “As jy al hierdie dinge vir die mense vertel, sal hulle vir jou vra: ‘Hoekom het die Here besluit dat sulke slegte dinge met ons moet gebeur? Wat het ons nou eintlik gedoen dat daar op so ’n slegte manier met ons gewerk word? Wat het ons sodanig gedoen waarvan die Here wat ons God is, nie hou nie?’

Lees volledige hoofstuk Jeremia 16