Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 10:2-12 Die Boodskap (DB)

2. Hy sê: “Moenie die manier hoe die ander nasies dinge doen, aanleer nie. Julle moet byvoorbeeld nie bang wees vir die tekens wat hulle in die sterre sien nie. Dit maak die mense van hierdie nasies baie bang.

3. Die godsdiens van hierdie volke maak nie mooi sin nie. Hulle kap ’n boom in ’n bos af en laat ’n skrynwerker daarvan ’n beeld maak.

4. Daarna versier hulle die beeld met goud en silwer. Hierdie beeld word dan vasgespyker sodat dit nie omval nie.

5. Die gode wat so gemaak word, is net so hulpeloos soos ’n voëlverskrikker in ’n groentetuin. Die beeld kan nie praat of loop nie. Dit moet van die een plek na ’n ander rondgedra word. Julle moet nie vir sulke gode bang wees nie. Hulle kan julle op geen manier kwaad aandoen nie. Maar julle moet ook besef hulle kan niks goeds doen nie.”

6. Here, daar is niemand wat met U vergelyk kan word nie! U is baie sterk en U het baie invloed. As mense u Naam hoor, dink hulle U het baie mag en krag!

7. Is daar enige mense wat nie besef dat U gerespekteer moet word nie? U is dan die Koning van volke. Dit is net U wat hierdie eer verdien! Daar is niemand wat so slim en verstandig soos U is nie, nie in enige land van die wêreld of onder mense op die aarde nie.

8. Mense wat afgode vereer, is dom en verspot. Afgode wat uit hout gemaak is, kan ’n mens mos niks leer nie!

9. Dit maak geen verskil dat die gode versier is met die fynste silwer uit Tarsis of suiwer goud uit Ufas nie, dit bly maar iets wat ambagsmense gemaak het. Hulle trek hierdie gode ook klere aan wat uit baie duur materiaal gemaak is; tog bly dit steeds die werk van kunstige mense.

10. Maar die Here is die enigste ware God. Hy is die God wat lewe en sal vir altyd Koning bly! As Hy kwaad is, bewe die aarde van vrees. Die nasies kan nie weerstand bied teen sy woede nie.

11. Julle moet vir die mense wat afgode vereer, sê: “Hierdie kastige gode het nie die hemel en die aarde gemaak nie. Hulle sal van die aarde af verdwyn.”

12. Dit is die Here wat deur sy krag die aarde gemaak het. Met sy kennis het Hy gesorg dat die aarde vas staan en dat alles op die aarde op die plek is waar dit hoort. Dit is ook Hy wat beplan het dat die hemel so oopgesprei sal lê.

Lees volledige hoofstuk Jeremia 10