Ou Testament

Nuwe Testament

Jeremia 1:12-19 Die Boodskap (DB)

12. En die Here het vir my gesê: “Jy is reg, dit is ’n amandeltakkie. Die amandelboom is gevoelig en weet altyd eerste dat die lente naby is, dan maak hy bloeisels. Net so sal Ek ook fyn aanvoel en sorg dat wat Ek gesê het moet gebeur, op die regte tyd sal gebeur.”

13. Die Here het toe weer met my gepraat en gevra wat ek sien. Ek het Hom geantwoord: “Ek sien ’n pot in die noorde wat staan en kook en dit lyk of die pot na ons kant toe wil omval.”

14. Toe sê die Here: “Jy het reg gesien. Vanuit die noorde sal ’n doodse gevaar oorspoel oor al die mense wat in Juda bly.

15. Ek beveel al die konings in die noorde om Jerusalem toe te kom. Hulle sal na die ingange van Jerusalem toe kom en elkeen vir hom ’n plek kry waar hy kan baasspeel. Hulle sal Jerusalem se mure probeer afbreek om so in die stad in te kom. Hulle sal ook van die ander stede in Juda aanval.

16. Op dié manier sal Ek my mense in Juda straf vir alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle was nie lojaal aan My nie. Hulle het agter ander gode aangeloop. Die ergste is, hulle het hierdie beelde met hulle eie hande gemaak en dan buig hulle sowaar voor so ’n beeld asof dit ’n regte god is!

17. “Maak klaar, Jeremia, en gaan sê vir die mense alles wat Ek te sê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders gee Ek jou dalk ’n rede om bang te wees!

18. Jy kan rustig wees, Ek maak jou so sterk soos ’n stad wat ’n muur om het om die mense te beskerm. Of Ek maak jou soos ’n ysterpaal wat vasgeplant is of so hard soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om al die aanvalle van mense op jou te oorleef. Dit maak nie saak of die aanvalle van die konings van Juda en hulle amptenare of die priesters of enige van die land se mense kom nie.

19. Hulle sal jou definitief probeer onderkry, maar hulle sal dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en Ek sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe jou dit!”

Lees volledige hoofstuk Jeremia 1