hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 9 Die Boodskap (DB)

Die natuur sal daaronder ly

1. “Israel, jy moet ophou om so uitspattig te kere te gaan soos die ander volke. Jy het van jou God af weggeloop soos ’n los vrou. Jy hou daarvan om op elke plek waar die graan gedors word, met vroue partytjies te hou. Jy maak asof die oes die betaling is vir wat jy met die vroue doen.

2. Daar gaan nie langer graan wees om te dors of druiwe om te pluk nie. Daar gaan nie meer kos vir julle wees nie. Daar sal nie langer druiwesap wees van die druiwe wat julle uitgetrap het nie.”

Julle sal nie die Here in ’n ander land kan dien nie

3. “Julle kan nie langer in die Here se land bly nie. Efraim sal moet teruggaan Egipte toe. In Assirië sal hulle kos moet eet wat nie vir die Here reg is nie.

4. As hulle daar is, sal hulle nie meer vir die Here offers van wyn kan bring nie. Die Here sal nie tevrede wees met die offers wat hulle daar vir Hom bring nie. Die kos wat hulle daar eet, sal wees soos kos wat vir ’n begrafnis gemaak is. Elkeen wat van daardie kos eet, sal nie langer vir die Here aanvaarbaar wees nie. Die kos wat hulle daar eet, sal hulle net help om aan die lewe te bly. Dit sal nie kos wees waarmee jy na die Here toe kan gaan om dit vir Hom te offer nie.

5. Julle sal nie daar die Here se feesdae kan vier nie. Dit sal nie moontlik wees om die feeste te hou wat die Here van julle vra nie.

6. Dié wat dit regkry om van die Assiriërs weg te kom, sal in elk geval in Egipte gevang word. Die Egiptenaars sal hulle doodmaak en in Memfis begrawe. Daar sal bossies en dorings groei op die plekke waar hulle gebly het. Oor elke plek wat vir hulle kosbaar was, sal daar gras groei.”

Hulle houding teenoor die Here se boodskappers

7. “Die tyd het gekom om die boete te betaal. Die tyd is hier om die skuld wat hulle gemaak het, bymekaar te tel. Israel gaan baie goed besef dat dit nou sulke tyd is. Julle sê die man wat God se boodskap bring, is mal. Julle sê die man in wie God se Gees is, is stapelgek. Julle sê so omdat julle sonde so groot is. Julle voel skuldig. Dit is hoekom julle met hom wil baklei as hy met julle praat.

8. Die Here se boodskapper moet kyk wat Efraim doen. Waar die boodskapper ook al gaan, kyk hulle heeltyd of hy nie miskien iets verkeerds doen nie. Selfs waar daar vir die Here geoffer word, hou hulle aan om hom soos ’n vyand te behandel.

9. Hulle gaan agteruit en word so sleg soos destyds by Gibea. Die Here onthou alles wat hulle verkeerd gedoen het. Hy sal hulle vir elke sonde straf.”

Die klag teen Israel

10. “Toe Ek destyds op Israel afgekom het, was Ek so opgewonde soos iemand wat in die woestyn loop en skielik op druiwe afkom. Toe Ek julle voorouers ontmoet het, was dit soos iemand wat na ’n vyeboom gaan en die eerste vroeë vye aan die boom kry. Maar by Baäl-Peor het hulle vir Baäl gekies. Hulle het toe vir My net so afstootlik geword soos hierdie afgod vir wie hulle so lief is.

11. “Die respek wat ander mense vir Efraim gehad het, sal verdwyn. Dit sal wees soos ’n voël wat wegvlieg. Sy vroue sal nie meer kinders hê nie. Hulle sal nie weer babas verwag nie. Hulle sal dit selfs nie eens regkry om weer te verwag nie.

12. Selfs die kinders wat hulle het om groot te maak sal doodgaan. Hulle sal glad geen kinders meer oorhê nie. Daar gaan groot teëspoed oor hulle kom as Ek die dag besluit om niks meer met hulle te doen te hê nie.

13. “Efraim het vroeër vir My gelyk soos ’n jong plantjie wat baie groot gaan word as jy dit in vrugbare grond plant. Nou moet Efraim soos ’n plant afgesny word. Hy moet sy kinders wegstuur om doodgemaak te word.”

14. Wat kan ’n mens by die Here vra vir mense met wie dit so gaan? Al wat ek kan vra, is dat hulle liewer nie kinders moes gehad het om so te verloor nie.

15. Die Here sê: “Al hulle verkeerde dinge het by Gilgal begin. Ek het daar al gesien dat Ek nie van hulle hou nie. Ek gaan hulle uit my land wegjaag omdat hulle sulke verkeerde dinge doen. Ek het hulle nie meer lief nie. Al hulle leiers is mense wat net hulle eie kop wil volg.

16. “Efraim is soos ’n plant waarvan die wortels iets oorgekom het. Sy wortels het begin doodgaan. Hy kan nie meer vrugte dra nie. Selfs al dra hy nog vrugte en al bring hy nog kinders in die wêreld, sal Ek die kinders laat doodgaan. Dis verby met hulle kinders, al is hulle ook hoe lief vir die kinders.”

17. Ek het toe gesê: “God het hulle weggegooi. Hulle het nie na die Here geluister nie. Hulle word mense wat nie ’n plek het om te bly nie. Hulle swerf rond onder die nasies.”