hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14

Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 7 Die Boodskap (DB)

Israel kan nie herstel nie

1. “Die oomblik wanneer Ek Israel weer gesond wil maak, word dit duidelik wat Efraim verkeerd gedoen het. Dit word duidelik wat daar in Samaria gebeur. Hulle bedrieg mekaar. Die dief breek in om te steel. Hulle beroof mekaar op straat.

2. Hulle dink nie eers daaraan dat Ek alles onthou wat hulle verkeerd gedoen het nie. Ek onthou al hulle oortredings wanneer hulle voor My staan.”

Sluipmoord in die paleis

3. “Die koning is baie tevrede met die slegte dinge wat sy mense doen. Sy leiers glo al die leuens wat hulle verkoop.

4. Intussen is hulle almal onderduimse rugstekers. Hulle staan net hulle kans en afwag. Dit is soos ’n warm oond wat staan en wag terwyl die bakker besig is om die deeg te knie om te kan rys.

5. By die koning se partytjie maak hulle sy leiers dronk met wyn. Die koning stel ’n heildronk in op die mense wat met hom spot.

6. Deur die nag beplan hulle om die koning dood te maak. Hulle is soos ’n oond wat wag om gebruik te word. In die oggend vat dit vlam.

7. Soos die oond vlam hulle skielik op en verbrand hulle leiers. Hulle vermoor al hulle konings. Nie een van die konings het My kom vra om hulle te help nie.”

’n Mens kan oor Efraim lag

8. “Efraim het met volke deurmekaargeraak wat nie in die Here glo nie. Hy het soos ’n ding geword wat net halfpad gaargemaak is en wat niemand kan eet nie.

9. Mense wat hy nie eens ken nie, het sy geld gevat. Hy het dit nie eens agtergekom nie. Hy was nie eens bewus daarvan dat hy oud geword het nie.

10. Niemand hou van Israel wat so verwaand is nie. Hy is te hoogmoedig om terug te kom na die Here sy God. Na alles wat met hom gebeur het, is hy steeds te trots om die Here te kom vra om hom te help.

11. “Efraim is soos ’n duif wat sonder koers rondfladder. Hulle soek hulp by Egipte. Hulle hardloop agter Assirië aan.

12. As hulle probeer oorvlieg na hierdie lande toe, lê Ek hulle voor. Ek gooi my vangnet oor hulle uit. Ek bring hulle af grond toe soos wanneer ’n mens ’n swerm voëls hoor kom en hulle met ’n net vang en almal aftrek uit die lug.

13. Daar wag moeilikheid vir hulle, want hulle het van My af probeer wegvlieg. Hulle gaan vernietig word, want hulle het teen my gerebelleer.“Ek wou hulle graag vrygemaak het, maar hulle het My om die bos probeer lei.

14. Wanneer hulle tot My bid, bedoel hulle dit nie regtig nie. Eintlik beledig hulle My wanneer hulle so vir My bid. Hulle lê en kerm op die bed net soos wanneer die heidene vir hulle gode bid. Hulle kerf hulle stukkend met messe asof hulle vir ’n afgod bid om vir hulle koring en wyn te gee.

15. “Ek het hulle laat oefen om oorlog te maak. Hulle het hulle arms sterk gemaak. Hulle het ongelukkig agter my rug ander planne gaan maak.

16. Hulle het na mense gesoek wat hulle kan help. Hulle kon nie sulke mense in die hande kry nie. Hulle het geword soos ’n slap boog wat nie meer kan skiet nie. Hulle leiers gaan in die oorlog dood van die vervloekings wat hulle oor hulleself uitgespreek het. In Egipte spot die mense met hulle.”