Ou Testament

Nuwe Testament

Hosea 4:12-19 Die Boodskap (DB)

12. “My volk verwag dat die stuk hout waarvan hulle ’n afgod gemaak het, vir hulle sal sê wat hulle moet doen. Hulle verwag dat ’n stok vir hulle die waarheid sal vertel. Hulle het losbandig geword. Hulle het soos ’n vrou geword wat agter mans aanloop. Hulle het die Here heeltemal vergeet.

13. Hulle bring offers bo-op die berge. Hulle verbrand hulle offers op die heuwels onder die digte skaduwee van al die groen bome. Julle dogters het prostitute geword wat by die offerplekke werk. Julle skoondogters het agter vreemde mans begin aanloop.

14. Ek sal nie julle dogters en skoondogters straf vir wat hulle doen nie, want hulle volg maar net die priesters se slegte voorbeeld. Die mans wat die offers bring, gaan slaap by die vroue wat saam met hulle werk. Hulle bring saam met die vroue offers vir die afgode. ’n Volk wat nie meer mooi dink wat hy doen nie, het homself verraai.

15. “Israel, as jy van die Here af wegdwaal, moet jy nie Juda saamsleep dat hy ook skuldig word nie. Juda, jy moenie agter Israel aanloop na Gilgal en Bet-Awen toe waar hulle hulle offers bring nie. Jy moenie ook daar beloftes gaan maak vir die Here nie.

16. Israel is so koppig soos ’n bees wat viervoet vassteek. Hy weier om te kom. Die Here sal hom sommer in die oop veld los. Hy sal losloop soos ’n jong ram wat elke keer losbreek.

17. Laat Efraim maar sy gang gaan. Hy het mos agter afgode aan geloop.

18. As sy leiers smoordronk is, gaan soek hulle slegte vroue. Sy heersers hou meer van skande as van eer.

19. ’n Stormwind het hulle saamgevat. Hulle sal met skande doodgaan omdat hulle vir afgode geoffer het.”

Lees volledige hoofstuk Hosea 4