Ou Testament

Nuwe Testament

Habakuk 1:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Die Here het Habakuk as profeet gebruik. Wat volg, is wat die Here vir hom gesê het.

2. Here, hoe lank moet ek nog bly roep dat U moet help? Dit klink nie of U hoor nie. Ek kla by U omdat mense ons aanrand en doodmaak, maar U red ons nie.

3. Hoekom laat U my hierdie verkeerde dinge sien? Hoekom verdra U dit dat mense swaarkry? Waar ek ook al kyk, lê dinge verwoes. Dit is ’n wêreld vol geweld. Oral stry en baklei mense.

4. Mense steur hulle nie aan die wet nie. Die howe sorg nie dat wat reg is die wenner is nie.

5. Die Here het toe vir die mense van Juda gesê: Hou ’n bietjie die ander volke om julle dop. Ek het binnekort ’n groot verrassing vir julle. As iemand julle daarvan sou vertel het, sou julle hom nie geglo het nie.

6. Hier is dit: Ek maak die Babiloniërs die mag wat al die volke in die wêreld sal oorheers. Hulle reputasie is oral bekend, hulle is ’n wrede en woeste spul mense. Hulle stuur hulle soldate die wêreld vol en dan neem hulle lande in.

7. As mense net aan hulle dink, dan raak hulle bang en lam van vrees. Hulle is so arrogant, hulle maak hulle eie wette oor wat reg en verkeerd is.

8. Hulle soldate wat op perde ry, maak ook groot indruk. Hulle perde lyk so vinnig dat ’n mens die idee kry dat hulle vinniger as luiperds is en skrikwekkender as honger wolwe. Hulle ruiters kom van ver af aangejaag en sak dan nes arende soos blits op hulle prooi toe.

Lees volledige hoofstuk Habakuk 1