Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 34:4-24 Die Boodskap (DB)

4. Sigem het toe sy pa se hulp ingeroep. “Pa,” het hy gesê, “help my tog dat Dina my vrou kan word.”

5. Jakob het intussen die skoknuus verneem. Hulle het hom kom vertel hoe Sigem sy Dina-kind se lewe vernietig het. Jakob het aanvanklik niks gedoen nie, want hy wou eers vir die seuns wag. Hulle was nog met die vee in die veld.

6. Na ’n ruk het Hamor, Sigem se pa, by Jakob aangekom. Hy wou met hom oor Sigem se liefde vir Dina praat.

7. Presies op daardie oomblik het Jakob se seuns van die veld af gekom. Toe hulle hoor wat gebeur het, was die broers geskok en woedend. Wat Sigem gedoen het, was verkeerd. Hoe kon hy Dinatjie by hom in die bed gedwing het? Hy het Israel beledig. So iets sou die broers nie duld nie.

8. Hamor, wat van niks geweet het nie, het voortgegaan om met Jakob en die seuns te praat. “Jakob,” het hy gesê, “my seun Sigem het sy hart op jou dogter verloor. En ek vra jou mooi, ou Jakob, laat die kinders tog trou, man.”

9. Hy het voortgegaan en gesê: “Kom, laat ons mense oor en weer met mekaar trou. Gee ons julle dogters en dan kan julle met ons dogters trou.

10. Julle kan tussen ons kom bly. Die land sal dan ook vir julle oop wees. Julle kan gaan waar julle wil en bly waar julle wil. En julle kan sake doen net waar julle ook al wil.”

11. Toe het Sigem gepraat. Hy het saam met sy pa gekom, maar die hele tyd niks gesê nie. Hy het opgestaan en Dina se pa en broers gesmeek: “Asseblief, ek sal julle enigiets betaal.

12. Julle kan vir Dina vra net soveel as wat julle wil en ek sal betaal. Ek sal alles gee net solank sy my vrou kan word.”

13. Jakob se seuns was nog woedend oor die ding wat Sigem met hulle suster gedoen het. Hulle het toe ’n baie slegte plan beraam.

14. Hulle het vir Sigem en sy pa, Hamor, gesê: “Ongelukkig kan ons nie. Ons kan tog nie ons suster aan iemand gee wat nie besny is nie. Dit sal mos ’n skande wees.

15. Daar is egter wel ’n moontlikheid: julle moet soos ons word en julle laat besny.

16. As julle dit doen, word alles natuurlik makliker. Ons kan dan met gerustheid ons dogters vir julle gee en ons seuns kan ook sonder enige probleme met julle dogters trou. Ons kan dan saamwoon en een volk word.

17. As julle vandag egter anders besluit, vat ons Dina en gaan weg.”

18. Vir Hamor en Sigem het alles goed geklink en hulle is daar weg.

19. Die jongman, Sigem, het Dina so begeer dat hy onmiddellik met die voorbereidings vir die besnydenis begin het. Vir sy familie was Sigem ’n baie belangrike man.

20. Hamor en sy seun Sigem het die lede van die dorpsraad by die stadspoort gaan ontmoet. Hulle wou die dorpsraadslede van hulle ervaring vertel.

21. Hulle het gesê: “Broers, hierdie Jakobgroep is oulike mense. Laat hulle tog toe om onder ons te kom woon en te gaan waar hulle wil. Daar is tog genoeg plek vir ons almal in die land. Ons kan selfs met hulle dogters trou en hulle met ons jongmeisies.

22. Daar is egter ’n voorwaarde voor ons een volk kan word. Ons moet soos hulle word en ons almal laat besny. Doen ons dit nie, is dit klaarpraat. Dan gaan hulle nie by ons bly nie en ons gaan nie een groot groep word nie.

23. Dink net daaraan, hulle beeste, hulle veetroppe en al hulle besittings word ook ons s’n. Kom ons gee toe sodat hulle hier by ons kan kom bly.”

24. Die dorpsraad het met Hamor en Sigem saamgestem en elke man in die dorp is besny.

Lees volledige hoofstuk Genesis 34