Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 30:16-31 Die Boodskap (DB)

16. Toe Jakob die aand van die veld af kom, het Lea hom tegemoetgestap. “Jakob,” het sy geroep, “jy slaap vanaand by my. Ek het klaar daarvoor betaal met Ruben se liefdesappels wat hy opgetel het.” Jakob het toe by Lea geslaap.

17. God het Lea se gebede verhoor en sy het verwag en vir Jakob ’n seun gegee. Dit was die vyfde een.

18. Lea het gesê: “God beloon my omdat ek my slavin vir Jakob gegee het.” Sy het die kind Issaskar genoem.

19. Lea het sowaar weer verwag en nog ’n seun vir Jakob gegee. Dit was die sesde.

20. Lea het gesê: “God het my werklik ’n kosbare geskenk gegee. Hierdie keer sal Jakob presente vir my moet bring, want ek het hom ses seuns gegee.” Sy het die kind Sebulon genoem.

21. Die laaste kind was ’n dogtertjie en Lea het haar Dina genoem.

22. God het egter ook aan Ragel gedink en haar gebede verhoor. En Ragel het verwag.

23. Sy het ’n seun gehad en gesê: “God het my skande en vernedering weggevat.”

24. Sy het hom Josef genoem. Dit beteken: “Mag die Here my nog ’n ander seun ook gee!”

25. Na die geboorte van Josef het Jakob vir Laban gesê: “Laat my asseblief toe om na my ouerhuis en my land toe terug te gaan.”

26. Omdat ’n slaaf se familie die baas se eiendom was, het Jakob ook nog gesê: “Laat my ook toe om my familie saam te vat. Ek het hard gewerk vir hierdie vroue. En my harde werk het jou ryk gemaak.”

27. “Ja, dis waar,” het Laban gesê, “ek moet dit teenoor jou erken. Die Here het my as gevolg van jou ryk gemaak.

28. Daarom, Jakob,” so het Laban voortgegaan, “sal ek jou enigiets betaal as jy sal bly. Jy noem dit en ek betaal.”

29. Jakob het geantwoord: “Jy is reg. Ek was ’n getroue werker en ek het jou kuddes goed opgepas.

30. Voordat ek hier gekom het, het jy nie veel gehad nie, maar toe het die Here jou ryk gemaak en baie besittings gegee. Wat ek ook al gedoen het, het jou net ryker gemaak. Nou het dit tyd geword dat ek vir my vroue en kinders moet sorg.”

31. “Hoeveel moet ek jou betaal?” het Laban gevra.“Niks nie,” sê Jakob. “Jy hoef my nie geld te gee nie. Daar is eintlik net een ding wat ek graag wil hê. En as jy dit gee, sal ek weer jou kuddes versorg.”

Lees volledige hoofstuk Genesis 30