Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:9-24 Die Boodskap (DB)

9. Terwyl Jakob nog praat, sien hy haar. Sy het pas met haar pa se skape by die put aangekom. Haar naam was Ragel en sy was ’n herder.

10. Jakob kon dit nie glo nie. Was dit werklik Ragel, die dogter van sy ma se broer? Was dit werklik sy oom Laban se skape? Hy het onmiddellik na die put toe gestap, die swaar deksel weggerol en die skape begin water gee, die skape van sy ma se broer.

11. Jakob kon dit meer hou nie. Hy het vorentoe gestap, Ragel gesoen en begin huil.

12. Toe het hy haar alles vertel. Van sy pa en sy pa se mense. Van sy ma, Rebekka, en hoe dit met haar gaan. Ragel was oorstelp. Sy het na haar pa toe gehardloop en hom alles vertel.

13. Laban kon sy ore nie glo nie. Dat Jakob, sy eie suster se seun, hier kan wees, was mos nie moontlik nie. Laban het alles net so gelos en na Jakob toe gehardloop. Hy het hom omhels, hom gesoen en na sy huis toe gebring.

14. Jakob het vir Laban ook weer alles oor en oor vertel. Later het Laban vir hom gesê: “Jakob, jy is deel van my bloed en van my familie. Bly hier!” Jakob het ’n maand lank by sy oom gebly.

15. Na ’n maand het Laban vir Jakob gesê: “Al is jy deel van ons, gaan jy nie verniet vir my werk nie. Hoeveel moet ek jou ’n maand betaal? Maak jou sommetjies en sê my dan.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel.

17. Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi.

18. Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.”

19. “Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.”

20. So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel.

21. Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.”

22. Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi.

23. Laataand het Laban vir Lea, sy oudste, gevat en haar na Jakob toe gebring. Sy het ’n sluier om haar gehad en Jakob het haar nie herken nie. Dié nag het Jakob toe by Lea geslaap.

24. Laban het die nag sommer ook sy slavin Silpa gevat en haar vir Lea gegee.

Lees volledige hoofstuk Genesis 29