Ou Testament

Nuwe Testament

Genesis 29:13-22 Die Boodskap (DB)

13. Laban kon sy ore nie glo nie. Dat Jakob, sy eie suster se seun, hier kan wees, was mos nie moontlik nie. Laban het alles net so gelos en na Jakob toe gehardloop. Hy het hom omhels, hom gesoen en na sy huis toe gebring.

14. Jakob het vir Laban ook weer alles oor en oor vertel. Later het Laban vir hom gesê: “Jakob, jy is deel van my bloed en van my familie. Bly hier!” Jakob het ’n maand lank by sy oom gebly.

15. Na ’n maand het Laban vir Jakob gesê: “Al is jy deel van ons, gaan jy nie verniet vir my werk nie. Hoeveel moet ek jou ’n maand betaal? Maak jou sommetjies en sê my dan.”

16. Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel.

17. Lea het baie mooi oë gehad, maar Ragel, die jongste, was baie mooi.

18. Jakob het verlief geraak op Ragel en daarom het hy vir Laban gesê: “Oom hoef my nie te betaal nie. Ek sal vir Oom se jongste dogter, vir Ragel, werk. Sewe jaar lank sal ek vir haar werk en dan moet sy my vrou word.”

19. “Goed dan,” het Laban gesê. “Jy bly hier by my en jy werk sewe jaar lank vir Ragel. Dit is beter dat jy haar kry as die een of ander kêrel wat nie deel van ons is nie.”

20. So het Jakob vir Ragel gewerk. Sewe jaar lank! En dit was glad nie eens vir hom moeilik nie. Dit het soos ’n paar dae gevoel, want hy was baie lief vir Ragel.

21. Op ’n dag het Jakob vir Laban gesê: “My sewe jaar is verby. Gee Ragel asseblief vir my sodat ek by haar kan gaan slaap.”

22. Laban het toe ’n groot fees gehou en al die mense van die dorp genooi.

Lees volledige hoofstuk Genesis 29